Kom vier eenheid in Christus
Die verwagting is dat ‘n positiewe liefdesgetuienis na die omliggende wêreld sal uitgaan wanneer gelowiges in Christus bymekaar kom.
Gelowiges van alle kerke word uitgenooi om op 29 September deel te neem aan ‘n gesamentlike byeenkoms om hulle eenheid in Jesus Christus te vier.
Die geleentheid vind plaas in die Eeufeessaal en begin om 3nm en sal teen 5nm ten einde loop.
Die bekende dr Frank Chikane asook plaaslike leraars sal optree en daar sal ruim geleentheid wees vir lofsang.
Dit is nodig dat Christene van tyd tot tyd bymekaar kom. Die Bybel sê dat ons die Liggaam van Jesus Christus is. Hy is die hoof en ons gelowiges is die ledemate.
“Ons het mekaar nodig en kan nie funksioneer asof die ander nie bestaan nie. Ons het almal verskillende gawes wat aangewend moet word in belang van God se Koningkryk,” sê Melodie van Brakel.
Mogale City, soos baie ander gemeenskappe, het ook sy eie ernstige uitdagings soos werkloosheid, armoede, behuising, afhanklikheid, misdaad ens.
Omstandighede soos hierdie dwing gelowiges om mekaar op te soek en bymekaar te staan.
“Ons het mekaar nodig.”
Dit is ook verrykend om mede-gelowiges te ontmoet.
Die leraars van Mogale City, wat Krugersdorp en die omliggende streke insluit, ondersteun hierdie inisiatief en hulle sal tydens eredienste daarvan melding maak.
Die verwagting is dat ‘n positiewe liefdesgetuienis na die omliggende wêreld sal uitgaan wanneer gelowiges in Christus bymekaar kom.
“Lees gerus Johannes 17 en kyk wat Jesus oor eenheid tussen gelowiges sê.”
