Local newsNews

Artikels oor MNS-lyer help ander 250km ver

'n Familielid wat die artikels oor Deon Nel, 'n motorneuronsiektelyer (MNS) van Krugersdorp gelees het, kon haar familie in Ermelo in Mpumalanga op die regte pad help.

Die artikels oor Deon Nel, ‘n motorneuronsiektelyer (MNS) van Noordheuwel wat in die NUUS verskyn het, het mense nie net aangeraak nie, maar ook mense gehelp wat onseker was oor wat die siekte vir hulle inhou.

Vir mense soos Martie en Ockert Nel was dit die antwoord nadat hulle vir maande lank probeer vasstel het wat Ockert (53) makeer toe hy skielik die gebruik van sy regterhand verloor het.

Vir die Nels, wat in Ermelo sowat 250km van Krugersdorp af woon, was dit ‘n frustrerende tyd omdat dokters toe nie geweet het wat fout was nie.

Martie se suster, wat in Dan Pienaarville in Krugersdorp woon, het ‘n artikel oor Deon in die NUUS raakgelees en vir hulle meer daarvan vertel.

Martie sê hulle het aanvanklik gedink dat Ockert ‘n nekbesering opgedoen het, maar toe haar suster haar kontak en Bernice, Deon se vrou, se kontakbesonderhede aan haar verskaf, het dit al hoe duideliker geword dat haar man eintlik tekens van MNS toon.

“Bernice het ons baie gehelp en my ook na haar facebook-blad verwys.

Sy is regtig iemand waarop ‘n mens kan staatmaak en sy was die een wat ons gehelp het om begunstigdes van Joost van der Westhuizen se J9-stigting, wat mense met MNS help, te word.”

Sy vertel dat nadat hulle meer wys geword het, is hulle in Mei verlede jaar terug hospitaal toe waar daar toe bevestig is dat Ockert aan MNS ly.

“Daardie dag was vir ons ‘n groot skok, maar intussen berei ons onsself reeds voor vir dit wat kom – Ockert begin reeds sleeptong praat en ons weet dat hy sy spraak eerste gaan verloor.”

Sy vertel emosioneel dat dit vir hulle ontstellend was toe hulle verlede jaar by Deon gaan kuier het en hom daar gesien lê het.

“Ockert het toe vir my gesê dat hy nie so wil wees nie en dat hy nie ‘n las vir ons wil wees nie, maar met ons onlangse besoek aan Deon het hy daaroor nagedink en gesê as ons hom by ons wil hê dan sal hy dit doen.”

Martie sê sy wil nie haar man verloor nie en dat sy vir hom al die krag en ondersteuning sal gee wat hy nodig het.

“Deon en Joost is vir ons so ‘n groot inspirasie en dit bied die ondersteuning dat ‘n mens nie hoop moet verloor nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button