Deon geniet kuier saam met Joost en ander MNS-lyers.
Deon Nel, 'n motorneuronsiektelyer van Krugersdorp en sy gesin het 'n dag saam met Joost van der Westhuizen en ander lyers buite Pretoria spandeer.
Joost van der Westhuizen wat aan motorneuronsiekte (MNS) ly, sê die droom om eendag al die begunstigdes van sy J9-stigting bymekaar te hê, het waar geword.
“Ek het nog altyd geglo dat ons so ‘n dag sal hê waar ons saam met ons families sal kan kuier en herinneringe saam sal kan bou.”
So ‘n dag is op 21 September by die Letsomong-wildsplaas in die Dinokeng-reservaat buite Pretoria gehou en dit was die eerste keer dat die begunstigdes en hulle families, selfs die families van lyers wat reeds oorlede is, kon saamkuier.
Joost se siekte is reeds in ‘n gevorderde stadium en hy is van ‘n rolstoel afhanklik. Al vind hy dit moeilik om te praat het hy vir Deon Nel, ‘n motorneuronsiektelyer van Krugersdorp wat deur Vitalmed-ambulansdienste na die geleentheid vervoer is, bedank dat hy daar was en het selfs geskerts dat hy jammer is dat die Blou Bulle teen die Goue Leeus in ‘n Curriebekerwedstryd verloor het.
Bernice, Deon se vrou, sê dit was ongelooflik om as ‘n gesin die geleentheid saam met ander lyers te kon bywoon aangesien sy en haar man laas in 2008 regtig uit was.
Die enigste kere wat sy en Deon nie by die huis was nie, is toe hy hospitaal toe en terug vervoer is.
“Dit was selfs vir ons ‘n droom om Deon uit die huis te kry en vir hom ‘n beter kwaliteit lewe te kon bied, want ons is al vir jare van die buitewêreld afgesluit. Ons was nog altyd mense vir die buitelewe.”
Nathania de Kock, woordvoerder van die Stigting wat reeds byna twee jaar bestaan, sê hulle staan tans 19 MNS-lyers van reg oor die land by en dit is selfs vir haar ‘n baie emosionele dag om almal, selfs vir Deon en sy vrou by die familiedag te sien.
“Bernice is soos ‘n ma vir my. Wanneer ek haar hulp en advies nodig het, is sy altyd daar om my by te staan.”
Tydens die dag is twee MNS-lyers André Theron van Jeffreysbaai en Pierre Meintjes van Louis Trichardt as nuwe lede bygevoeg.
Amor Vittone, Joost se vrou en hulle seun Jordan was ook by die familiebyeenkoms.
Amor wat die gaste met ‘n paar van haar bekende treffers vermaak het, het die liedjie Voluit Lewe aan haar man opgedra.
“Die liedjie is al verskeie jare gelede geskryf, maar ek dink dit is geskryf vir hierdie oomblik. Ek is so bly om jou te sien glimlag, want jy gee vir so baie mense daarbuite nog hoop om te lewe.”
Sy het vir hom gesê dat sy hom as persoon waardeer en dat sy en die kinders nog baie lief vir hom is.