Theuns se sangnote vir skoolbussies
'n Buitelugvertoning is vir die eerste keer in Laerskool Krugersdorp-Noord se geskiedenis op die rugbyveld gehou.
Op ‘n volgepakte rugbyveld met heerlike kosgeure in die lug en kinderstemme wat vrolik lag, is waar Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Theuns Jordaan sy verskyning op die verhoog by Laerskool Krugersdorp-Noord gemaak het.
Dit is die eerste keer in die skool se geskiedenis dat hulle ‘n buitelugoptrede op die rugbyveld gehou het, sê Issie Haupt, ‘n onderwyseres en die organiseerder van die geleentheid.
Sy vertel dat sy verras was toe sowat 3 000 mense daar aangekom het, die meeste met kampstoele en piekniekkomberse.
Sowat R130 000 is deur middel van kaartjieverkope ingesamel en dit sal gebruik word om bussies vir die skool aan te koop.

“Ons het tans twee bussies wat gebruik word om kinders na verskeie geleenthede te vervoer, maar met ‘n skool van nagenoeg 900 leerlinge is daar ‘n tekort aan bussies en daarom sal ons nog projekte aanpak om nog bussies te koop,” sê Issie.
“Die senuwees het maar geknaag so tussen die reëlings deur, want ek het nie geweet wat die uitkoms sou wees nie. Ek is nou bly dat dit ‘n sukses was – dit was regtig wonderlik om vir Theuns by ons te hê omdat ons weet sy musiek trek mense.”
Entrepreneurs het ook die geleentheid gehad om iets te verdien toe hulle allerhande lekkernye soos kos, lekkers, koeldrank en roomys by hulle stalletjies verkoop het.
Issie bedank graag elkeen wat ‘n bydrae tot die sukses van die dag gelewer het, asook elke leerling wat kaartjies verkoop het.
“Om ons leerlinge te bedank vir hulle harde werk om die kaartjies te verkoop, het ons besluit om die top twintig leerlinge elkeen vir ‘n bederfie McDonal’s toe te neem.”
Die top drie leerlinge – Wanré Nortjé (eerste plek), Maryke Nel (tweede plek) en Deonne van der Merwe (derde plek) – het elkeen ‘n koopbewys van Spur Key West en ‘n kontantbedrag ontvang vir die kaartjies wat hulle verkoop het.
Sy bedank ook vir MSR-sekuriteit wat hulle sekuriteitswagte gratis aan die skool beskikbaar gestel het om na die motors te kyk en oor die algemene veiligheid te waak.

