Wees versigtig vir verkopers
'n Bejaarde vrou waarsku dat verkopers mense in die Mindalore-area inloop.
Met vrees in haar oë het ‘n bejaarde vrou in haar sestigs verduidelik dat sy voel dat dit haar plig is om die gemeenskap te waarsku dat verkoopsmense in die Mindalore-area besig is om mense in te loop.
Dié vrou, wat nie haar identiteit bekend wil maak nie omdat sy bang is dat sy deur hierdie verkoopsmense geviktimiseer gaan word, sê dat sy duisende rande skuld vir ‘n diens waarvoor sy nie gevra het nie.
“Ek kan nie meer die dreigemente hanteer nie. Hulle bel my en dreig my dat hulle my sal kry, omdat ek vir hulle ‘moeilikheid’ maak en dat hulle die geld wat ek hulle skuld soek.”
Sy verduidelik dat sy ‘n pensioentrekker is wat reeds met min geld moet klaarkom en dus nie onnodige skuld maak of vir dienste vra wat sy nie nodig het nie.
Op ‘n weeksdag in die eerste week in Oktober was sy besig om vir haar iets te ete te maak toe sy hoor hoe iemand buite haar erf na haar roep.
“Ek was in die kombuis en hoor iemand na my roep. Ek sê toe dat ek nie belangstel om iets te koop nie. Ek het toe op een van my rusbanke gaan sit om te eet, maar die man het so aangehou om my te roep dat ek uit frustrasie besluit het om tog te gaan kyk.”
Sy sê die man het vir haar gesê dat sy nie gedwing word om iets te koop nie en dat hy graag net ‘n demonstrasie aan haar wil gee.
“Dit is kos vir die gras en sal al die miere en goggas vir mevrou doodmaak,” verduidelik sy wat die vriendelike verkoopsman aan haar gesê het.
“Ek het vir hom gevra om dit op die grasperk voor my erf te gooi, maar hy het na my hek gekyk en gesê hy moet dit op my grasperk gooi sodat ek kan beter kan sien.”
Die bejaarde vrou sê sy het toe vir sy mooipraatjies geval en die hek oopgesluit en dis toe dat sy hoor iemand skree, “Bring vyf sakke”.
Sy sê sy het nie eers die kans gekry om te wonder wie so skree nie, want skielik was daar ‘n hele paar mans in haar erf wat almal gelyk met haar begin praat en kompossakke oopsny.
“Hoe meer ek hulle probeer keer en probeer verduidelik dat ek tuindienste het en dat my grasperk niks nodig het nie, hoe meer probeer hulle my gerusstel dat alles oraait sal wees.”
Uit moedeloosheid het sy op haar stoep gesit en huil terwyl daar net vir haar gesê word dat sy kalm moet bly.
“Toe ek later weer kans kry en vir hulle sê ek het nie geld om vir die kompos te betaal nie het hulle gedrag verander en is daar vir my gesê dat ek dit sal moet betaal anders is hulle in die moeilikheid.”
Met die bure en die gemeenskapspolisiëringsforum se hulp kon hulle daarin slaag om van hulle ontslae te raak, maar sy sê die verkoopsmense bly terugkom en haar dreig dat hulle die geld soek.
“Hoekom word bejaarde mense altyd ingeloop? Hoekom sukkel die mense altyd met ons?” wou sy met trane in haar oë weet.
