Local newsNews

Verwarde ogies toe diere by Kroningspark verwyder is

Die Dierebeskermingsvereniging het altesaam 20 honde en katte by Kroningspark gaan haal omdat die inwoners nie meer vir hulle kon sorg nie.

Hartseer hond- en katgesiggies het met verwarde oë uit hokkies gestaar toe hulle deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) uit Kroningspark verwyder is omdat dié plakkerskamp se inwoners nie verder vir hulle kan sorg nie.

“Ons het al ‘n paar gevallle gehad waar die honde kinders byt” — Hugo van Niekerk, kampbestuurder.

Altesaam 20 honde en katte is op 30 Oktober na die Krugersdorp DBV geneem.

Hugo van Niekerk, kampbestuurder sê hulle het die DBV genader omdat daar glo te veel diere in die kamp is.

“Mense van buite los hulle diere in die park en verwag dan dat ons na hulle moet kyk, maar ons kan nie eers vir onsself sorg nie.”

Daar bly sowat 300 mense in Kroningspark en Van Niekerk sê die diere het ‘n probleem begin raak omdat hulle honger is en dan die bietjie kos eet wat op ‘n Sondag vir inwoners voorberei word.

“Ons ander probleem is dat die diere nie opgelei is nie en dat dit ‘n gevaar vir kinders inhou – ons het al ‘n paar gevallle gehad waar die honde kinders byt,” vertel Van Niekerk.

Hy sê Mogale City Plaaslike Munisipaliteit het oorspronklik daarteen geskop dat die inwoners enige diere aanhou, maar het hulle tegemoet gekom en toegelaat dat elke gesin een hond en kat per staanplek kon aanhou.

“Die kamp kan nie soveel diere op die perseel huisves nie, want dan is daar nie beheer nie.

Van Niekerk sê dat die DBV weer gekontak sal word sodra hulle nog diere moet verwyder.

Jolene Beyleveld, woordvoerder van die Johannesburg en Krugersdorp DBV bevestig dat hulle die diere gaan haal het.

“Kroningspark het ‘n gebied geword waar mense al hulle ongewenste diere agterlaat. Die mense wat in die area woon, aanvaar dan die verantwoordelikheid om na die diere te kyk, hoewel dit vir hulle moeilik is as mens hulle omstandighede in ag neem.”

Sy sê die DBV het al voorheen die gebied besoek en die kampbewoners se diere gesteriliseer en ingespuit.

“Ons vra mense om asseblief hulle ongewenste diere na die DBV te neem. Daar is nie ‘n koste aan verbonde nie en jy sal ook nie veroordeel word nie.”

Beyleveld sê dat die diere liefde en respek nodig het.

“Daarom is dit belangrik dat die eienaars hulle ongewenste diere na ons toe bring om vir hulle ‘n gelukkiger lewe te kan gee.”

Mense in die gemeenskap wat diere wil aanneem, kan die Krugersdorp DBV by 011 953 1135 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button