Van Afrikaans tot Spaans by boekwinkel
Boekwurms kom vir die laaste keer vanjaar byeen om die boeke wat hulle reeds gelees het, met mekaar te bespreek.
Vyf jaar lank het die Spaanse polisie kopgekrap. Vyf jaar lank kon leidrade nie opgevolg word nie. Die raaiselagtige verdwyning van Aarón Diego, Spanje se Minister van Finansies het maande lank die nuus in elke Spaanse dagblad gehaal. En toe droog die nuus op, tot onlangs toe …
Die voorblaaie het weer bespiegel of die waarheid dalk by menslike oorskot lê wat tydens die jaarlikse kanowedvaart by die Turiarivier in Valencia gevind is; of dit dalk die antwoorde sal gee oor ‘n dwelm- en prostitusienetwerk wat Aarón destyds wou oopvlek.
Alhoewel dié storie na speurfiksie klink, is dit ‘n feit dat verskeie boeke in dié en ander genres deur ‘n verskeidenheid skrywers by Friends of Rescued Animals (Fora) se boekwinkel in Vierde Straat, Krugersdorp-Noord te koop is.
Tydens die laaste boeke-aand vir die jaar het boekwurms op 1 November by die boekwinkel bymekaar gekom om vir die ander liefhebbers van verhale hulle gunstelingboeke uit te wys en ook te vertel watter skrywers en genres hulle verkies.
Die geld wat elke boek inbring wat teen ‘n afslagprys by die boekwinkel gekoop word, word aangewend om die diere by die hawe ‘n beter lewe te gee.
Julie Wasserman sê hierdie funksies word gehou om die klante wat hulle gereeld ondersteun, te bedank. Enigiemand wat volgende jaar só ‘n aand wil bywoon, kan gerus vir Fora kontak.
Sy sê dierekos en donasies van enige aard is altyd welkom.
“Als wat ons nie kan gebruik nie kan ons in ons liefdadigheidswinkel verkoop omdat skenkings ‘n inkomste voorsien om na die diere om te sien.”
Anton Keyter het sy boek The Holy Grail dié aand te koop aangebied. Vir elkeen van dié boeke wat by die boekwinkel verkoop word, word R100 aan die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging, wat honde vir blindes oplei, geskenk.
Die boekwinkel is by winkel 4 in die Jay Sentrum in Vierdestraat, Krugersdorp-Noord langs Bonanza Spar.
Vir meer inligting kontak Julie by 076 771 5480.
