Vandalisme by begraafplaas kan beperk word
Begraafplaasvandalisme word elders beperk, waarom nie in Mogale City nie?
‘n Artikel oor vandalisme by die Burgershoop Begraafplaas het die gemeenskap geskok, maar klagtes het op dowe ore geval en dit lyk of die stadsraad voet by stuk hou dat inwoners self die geskiedkundige baken moet red.
Dit ten spyte van hulle beperkte fondse.
Die NUUS het onlangs op ‘n verslag afgekom waarin Mogale City se munisipale bure, die Stad Johannesburg ‘n alternatiewe metode beproef om vandalisme by begraafplase te voorkom. Dit laat die vraag ontstaan waarom dieselfde nie in Krugersdorp gedoen kan word nie.
Die Stad Johannesburg beplan om vroeg volgende jaar sekuriteitstoestelle op grafstene te installeer wat deur middel van ‘n mikroskyfie beweging sal waarneem en ‘n alarm sal laat afgaan. Boonop sal daar onmiddellik ‘n sms aan die naasbestaandes van die betrokke oorledene gestuur word.
Volgens ‘n toesighouer by Johannesburg se begraafplaasafdeling, Alan Buff, sal ‘n privaat kontrakteur die installeerwerk doen.
Hy verduidelik dat die mikroskyfie soos die opsporingstoestel in ‘n motor werk en dat owerhede dadelik sal weet waar en wanneer daar met ‘n grafsteen gepeuter word.
“Die sisteem neem die geringste beweging waar, selfs wanneer ‘n blompot verskuif word.”
Daar is wel ‘n koste daaraan verbonde vir die oorledene se naasbestaandes.
“Ons hou bekostigbaarheid in gedagte,” sê hy.
Daar is tans sekruriteitwagte by elkeen van die Stad Johannesburg se 36 publieke begraafplase.
