MunicipalNews

Watertekort omdat reservoir glo leeg is

Inwoners is woedend omdat hulle nie ingelig word oor die aanhoudende watertekorte nie.

Inwoners van Kenmare is reeds sowat drie dae sonder water omdat die Kenmare-reservoir na bewering leeg is.

Só het ‘n werknemer by die reservoir vandag aan die NUUS gesê toe ondersoek ingestel is na die rede waarom inwoners weer vir die soveelste keer sonder water moet sit.

“Daar is nie water nie, want die reservoir moet nou eers skoongemaak word,” sê hy.

Reeds van vanoggend af is die NUUS met oproepe oorval toe inwoners wat al keelvol vir die wateronderbrekings is, geskakel het om uit te vind of daar enige nuus oor die huidige situasie is.

Inwoners het reeds voor middagete by die Kenmare-reservoir tougestaan om water by die watertenks te kry.

Jane Goosen, ‘n pensioentrekker van die Kenmare Gardens-woonkompleks sê sy sal graag wil weet wat die munisipaliteit gaan doen rakende die aanhoudende waterprobleem.

Jane Goosen, 'n pensioentrekker is besig om haar waterhouer te vul.
Jane Goosen, ‘n pensioentrekker is besig om haar waterhouer te vul.

 

“Ek moes al by bure wat swembaddens het, water vir die toilette in die woonkompleks gaan bedel.”

Sy noem dat dit ongerieflik vir haar is omdat sy nie haar huistake kan verrig nie en tyd moet afstaan om water by die waterpunte te gaan haal.

Annatjie Coetzee (47), ‘n inwoner van Rant-en-Dal wat Kinnerlant Kleuterskool bestuur, sê wanneer dié area nie water het nie, dan is hulle in die knyp.

“Ons sien om na sowat 50 kinders en dit is ‘n haglike situasie wanneer daar nie water is nie. Ons kan nie kos kook nie, kinders kan nie gebad word nie en die toilette kan nie gespoel word nie.”

Daarom het sy en haar dogter René (20) soos die ander inwoners in die ry gaan staan en drie houers vol water gemaak om in basiese basiese behoeftes soos sanitasie en higiëne te voorsien.

“Om kos te kook en drinkwater vir die kinders te hê moet daar water aangekoop word, of ek moet op my onkoste water van die huis af bring.”

Die NUUS het vrae aan Rand Water gerig om agter die kap van die byl te kom nadat dit blyk dat Mogale City Plaaslike Munisipaliteit die skuld op hulle wil pak.

Wanneer die NUUS daaroor navraag gedoen het, het munisipale woordvoerder Nkosana Zali al keer op keer gesê dat daar nie ‘n waterkrisis is nie.

Word jy deur die watertekorte geraak en wat doen jy wanneer daar nie water is nie? Dink jy die munisipaliteit steek iets weg en speel nie oop kaarte met die inwoners nie? Lug gerus jou mening hieronder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button