‘n Haarkapster van Kenmare sê sy verloor duisende rande per dag omdat sy as gevolg van die watertekort wat in dié area ondervind word, nie haar werk kan doen nie.
Jolanda Ingham, eienaar van Jo’s Hair and Beauty wat reeds vir die afgelope 19 jaar haar geregistreerde haarsalon van die huis af bedryf, sê dat dit haar enigste inkomste is.
“Met die watertekort wat ons al van Saterdag af ondervind kan ek nie ‘n professionele diens aan my kliënte lewer nie en ek moes ook al verskeie kliënte wegwys.”
Sy sê toe die water Saterdag skielik opdroog, was dit vir haar ‘n vernedering om vir haar kliënte – veral dié wat hulle hare laat kleur het – te vra om hulle hare by die huis te gaan afspoel. Sy kon hulle ook nie die volle prys laat betaal nie.
“Net ‘n paar druppels het toe uit die kraan gekom – dit laat my baie onprofessioneel lyk en ek wens net Mogale City Plaaslike Munisipaliteit het ons vroeër daarvan in kennis gestel sodat ons vroegtydig reëlings kon tref.”
Sy sê van die kliënte wat sy Saterdag moes wegwys en van die haarafsprake wat sy daardie dag moes kanselleer is na gister 18 November verskuif.
“Dit was ‘n groter probleem, want toe is ons steeds sonder water. Van die kliënte het vir hulle afsprake opgedaag en ek moes water wat by die watertenks afgehaal is, in die ketel kook en kliënte se hare met ‘n beker afspoel. Weet jy hoe sleg laat dit my besigheid lyk?”
Oor haar afsprake vir vandag 19 November sê sy dat sy amper volbespreek is.
“Ek sal seker dié kliënte van my ook moet kontak en vir hulle die situasie verduidelik.”
Ingham het gewys hoe daar net ‘n dun straaltjie water uit die kraan by die wasbak loop waar sy haar kliënte se hare was, maar elders in die huis soos die badkamers en in die kombuis was die krane kurkdroog.
Op die vraag of sy gedurende die watertekort minder vir water betaal het, sê sy dat sy eintlik meer betaal het.
Die volgende waterverbruik is op haar munisipale rekeninge aangedui:
• Vir Mei was die waterverbruik 22kl wat op R230,35 te staan kom
• Vir Junie was die verbruik 52 kl wat op R786,96 te staan kom
• Gedurende Julie was die waterverbruik 14kl wat op R192 te staan kom
• Vir Augustus was haar waterverbruik 19kl en dit het haar R199,86 gekos
Gedurende die watertekort sedert September was die waterverbruik soos volg:
• Vir September het die state gewys dat haar waterverbruik 26kl was en dit het haar R324,11 gekos
• Vir Oktober was dit 22kl en die koste was R258,11
