Local newsMunicipalNews

Inwoners vuil en dors terwyl burgemeester rooi linte sny

Inwoners wou die burgemeester sien oor die voortslepende watertekort, maar hy het ander 'verpligtinge' gehad.

Terwyl ‘n groep ontevrede inwoners vanoggend (20 November) na die Stadsaal is om antwoorde te kry rakende die voortslepende watertekort, het die uitvoerende burgemeester van Mogale City Plaaslike Munisipaliteit, Calvin Koketso Seerane tyd afgestaan om te sien hoe dit met die nuwe ontwikkelings in die Wieg van die Mensdom-omgewing gaan, onder andere, die opening van Cradlestone Mall.

Sedert Vrydagaand 15 November is inwoners en besighede in Monument, Kenmare, Factoria en Noordheuwel se krane sonder waarskuwing opgedroog en hulle sê dat hulle nou genoeg gehad het aangesien dit sedert September ‘n gereelde voorval geword het.

Hulle is reeds vir sowat vyf dae sonder water.

Gert Jonker, die hoofuitvoerende beampte vir The Bethany House Trust-kinderhuis sê die rede waarom hulle ‘n noodvergadering met Seerane wou reël is omdat hulle antwoorde oor die situasie wil hê.

“Ons wil weet wat aangaan en wanneer ons weer water gaan hê. Ons weet die burgemeester is nie hier nie omdat hy die rooi lint by Cradlestone Mall moet gaan sny.”

Die ontevrede inwoners redeneer dat dit nie vir hulle lyk of Seerane of die res van Mogale City Plaaslike Munisipaliteit enigsins omgee of hulle sonder water moet klaarkom nie en dat Seerane lyk of hy meer in inkopies belangstel.

Die NUUS het die burgemeester by die opening van Cradlestone genader. In plaas daarvan om oor die nuwe winkelsentrum te gesels, het die NUUS Seerane gevra of hy dink dat die opening van dié winkelsentrum belangriker is as inwoners wat hom dringend wou sien.

“Ek was nie bewus daarvan dat hulle ‘n vergadering met my wou reël nie. Hulle het net daar opgedaag sonder ‘n afspraak, maar ongelukkig het ek reeds ander verpligtinge gehad en het ek gereël dat werknemers van die munisipaliteit na hulle vrae luister en antwoorde gee.”

Hy redeneer dat hy nie om 8vm met die inwoners kon praat nie omdat dit sleg sou lyk as hy nie deel van die opgewondenheid is by die nuwe winkelsentrum om (eers om 10vm) die rooi lint te sny nie.

Seerane is nà Cradlestone Mall se opening na Silverstar Casino om te sien hoe dit met die casino se nuwe ontwikkeling gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button