Balans en dissipline is haar wenresep
"As jy dit nie uit jou eie wil doen nie, gaan dit nie regtig help nie."
Die 32-jarige Caroly Erasmus is nie net die toonbeel van gesondheid nie, sy is ook onlangs as ‘n top 38-finalis in USN se Face of Fitness nasionale kompetisie gekies.
Alhoewel Caroly nie deurgedring het na die finale rondte van die kompetisie nie, is sy beslis ‘n wenner in eie reg.
Die blondekop met haar ongelooflike positiewe uitkyk op die lewe het haar sowat ses maande gelede in Krugersdorp gevestig.
Sy het as persoonlike afrigter op die eiland Bermuda (ongeveer 1 700km vanaf Miami in die VSA se kuslyn) gewerk waar sy ook vier keer die Miss Fitness Bermuda-titel gewen het.
Boonop het Caroly vir Bermuda in die Central America and Caribbean Bodybuilding Championships (CAC) verteenwoordig waar sy die laaste vier jaar top drie-plekke behaal het. In 2012 het sy haar IFBB (International Federation of Body Builders) Pro Card in Puerto Rico verwerf.
Die NUUS het onlangs met die gesondheidsfanatiese Caroly oor haar nuwe lewe in Krugersdorp gesels.
Haar vermoë om totaal gefokus te wees ten opsigte van haar liggaam, gesondheid en doelwit is verbasend inspirerend en ‘n mens kan nie help om te wonder of sy wat liggaambou betref, ooit ‘n voetjie verkeerd sit nie.

“Natuurlik moet jy baie streng met jouself wees. Sosiaal moet jy jou dikwels onttrek. Selfdissipline is vir my baie maklik want ek doen dit al vandat ek kan onthou,” sê Caroly.
Caroly se oefenprogram begin elke dag om 6vm waar sy ten minste ‘n uur en ‘n half in die gimnasium deurbring. Daarna volg ‘n goeie ontbyt gevolg deur gesonde happies deur die dag. Sy eindig met ‘n finale oefensessie van ongeveer 45 minute en maak seker sy kry genoeg rus in vir die volgende dag.
“Daar is dae wanneer ek myself ‘n bietjie laat gaan en lekker dinge soos ‘n wafel met roomys geniet. Ek gun myself die bederfie maar ek gaan nie oorboord nie en behou ‘n streng balans.”
Een van Caroly se drome is om haar eie ateljee in Krugersdorp te hê waar sy mense kan help met gesondheid en oefening. Sy noem dat haar eerste stap gewoonlik ‘n tipe boot camp sal wees.
“Ek is tans besig om my beplanning te finaliseer en sal myself beskikbaar stel vir dié wat werklik ‘n verandering in hulle lewe wil maak.
“As jy dit nie uit jou eie wil doen nie, gaan dit nie regtig help nie.”
Beplanning speel duidelik ‘n groot rol in Caroly se lewe.
“As jy ‘n plan het om mee te werk, is die helfte van die werk reeds gedoen. Beplan jou etes, beplan wanneer jy gaan oefen en werk na ‘n doelwit toe. Kry ook vir jou die regte ondersteuning, apparate en sorg dat jy nie die spoor byster raak nie.”
Sy sê as gewig verloor so maklik was, sou almal gelukkig en gesond gewees het.
“In fiksheid is daar nie kortpaaie nie, daar is nie ‘n quick fix nie.”
Caroly kan gekontak kan word deur facebook by Super C Fitness. Sy is ook op twitter as @supercfitness en op Instagram onder Super C Fitness.
Haar filosofie is heel eenvoudig: “Maak oefen vir jouself lekker”.
“Niks is so lekker as om te sien hoe jou liggaam verander nie; dis die grootste aanmoediging vir my en vir die persoon wat ek help,” eindig Caroly.
