Boombewus: Waarom die witstinkhout 'n gunsteling onder tuiniers bly
Van digte somerskadu tot kleurvolle herfsblare en wintersonlig – die witstinkhout bied die beste van al vier seisoene en floreer in groter tuine.
Die Celtis africana, ook bekend as die witstinkhout, is een van Suid-Afrika se gewildste en mooiste inheemse skadubome vir groter tuine.
In die negende uitgawe van die Boombewus-reeks, wat in samewerking met die Wieg van die Mensdom-tak van die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika saamgestel word, word daar na die witstinkhout gekyk.
• LEES OOK: Boombewus-reeks wys hoe om ’n olienhout te plant
Volgens Michelle Horn, lid van die tak, is die boom bekend vir sy treffende seisoenale voorkoms, vinnige groei en die ryk voëllewe wat dit lok.
In ’n normale tuinomgewing word die boom gewoonlik tussen sewe en 12 meter hoog, met ’n wye, sambreelvormige kroon van drie tot nege meter. In digte, inheemse woude kan dit tot 25 meter hoog word. Die boom groei vinnig en kan onder goeie toestande, met genoeg water, tussen een en twee meter per jaar groei.
“Dit is ’n bladwisselende boom en weerspieël die seisoene pragtig. In die lente kry dit fyn, liggroen nuwe blare, in die somer bied dit digte koelte, in die herfs verkleur die blare mooi geel voordat hulle afval, en in die winter ontbloot dit ’n pragtige, gladde silwergrys stam- en takstruktuur,” vertel sy.
Die boom is baie gehard teen ryp en matig droogtebestand sodra dit gevestig is.
Horn sê die witstinkhout is ideaal vir tuine omdat dit ’n ware “vierseisoen”-boom is. Omdat dit bladwisselend is, bied dit heerlike, digte skaduwee tydens warm somersdae, maar laat dit ook wintersonlig en warmte deur na jou tuin of huis wanneer die blare geval het.

“In die somer dra die boom klein geel-oranje vruggies. Voëls soos tiptolle, muisvoëls, barbette en loeries is gek daaroor. Dit is ook ’n gasheerplant vir pragtige inheemse skoenlappers,” voeg sy by.
Vir inwoners wat nie genoeg ruimte op hul erwe het nie, sê Horn die witstinkhout reageer uitstekend op snoei en is geskik vir bonsai en houers.
Dit is wêreldwyd een van die gewildste inheemse spesies vir bonsai-kuns omdat die blare maklik verdwerg.”
Sy waarsku egter dat die witstinkhout ’n relatief sterk en uitbreidende wortelstelsel het. Dit moet minstens agt tot 10 meter weg van permanente strukture soos huisfondasies, swembaddens, rioolpype en plaveisel geplant word om skade te voorkom.
“Hulle verkies ryk, diep grond met goeie dreinering en presteer die beste in volle son of ligte halfskadu,” voeg sy by.
“Pasop vir die indringer-kruising [Celtis sinensis]. Daar is ’n eksotiese Chinese spesie wat baie soos die witstinkhout lyk en maklik daarmee kruis.
Die Chinese spesie het ’n baie aggressiewe wortelstelsel en versprei maklik as indringer in tuine,” waarsku sy.
Hoe ken jy die verskil?
Horn sluit af deur te verduidelik dat die opregte, inheemse Celtis africana se blare sag en liggies harig is, terwyl Celtis sinensis se blare hard, glad en donkerglansend is. Sy raai inwoners aan om altyd hul boom by ’n betroubare kwekery te koop wat kan waarborg dat dit die egte inheemse spesie is.
