Harte smelt vir gemeenskap
'n Groep geharde motorfietsryers het kos ingesamel wat vir minderbevoorregtes in die gemeenskap aangewend sal word.
Die Anchor Riders Wes-Rand Motorfietsklub het gewys dat hulle nie bloot hardekoejawels op ysterperde is nie, maar sagte harte het wat hulle gemeenskap betref.
Op Donderdag 21 November het ‘n groep motorfietsryers bymekaargekom om kos wat hulle vir minderbevoorregte mense ingesamel het, aan dominee Anton Mieny van die Tower of Life in Luipaardsvlei te oorhandig.
Anton sê hy is baie dankbaar vir die hulp wat hulle deur hierdie skenking ontvang het omdat hulle na sowat 40 behoeftige mense by hulle kerk omsien.
“Ons is regtig baie dankbaar dat die motorfietsklub aan ons gedink het, want hierdie kos sal gebruik word om aandete voor te berei wat deel vorm van ‘n opheffingsprojek vir die mense van ons gemeenskap.”
Leon van Niekerk, president van die motorfietsklub sê dit is vir hulle ‘n groot voorreg om te help om ‘n verskil in hulle gemeenskap te maak.
Anton sê dat hulle egter steeds in nood verkeer en op skenkings staatmaak om die mense in hulle sorg te help.
“Ons het natuurlik altyd kos en klere nodig, maar sal enigiets aanvaar wat mense vir ons wil skenk.”
Mense wat ‘n verskil wil maak kan vir Chris Japtha by die Tower of Life by 071 366 1262 kontak.
Leon sê enige iemand wat deel van hulle motorfietsklub wil word, kan hom by 083 630 7174 of vir Eddie Jacobson by 084 519 5704 kontak.
