Van Nories na Namibië: Jy kan help met Dirk se rugbydroom
Die De Villiers-gesin hoop om byna R26 000 in te samel om hul seun se deelname aan ’n internasionale rugbytoernooi in Namibië moontlik te maak
Met harde werk, deursettingsvermoë en passie vir rugby het Dirk de Villiers die geleentheid gekry om aan ’n internasionale rugbytoernooi in Namibië deel te neem.
Die graad 10-leerder van Hoërskool Noordheuwel is onlangs gekies vir die o17 Woerie B-span se rugbytoer na Namibië later vanjaar.
Volgens sy ma, Nicole, was rugby nog van kleins af deel van Dirk se lewe.
“Hy speel nie net vir homself nie, maar vir sy span, met respek en trots. Om vir die toer gekies te word, is vir my ’n bewys van sy toewyding en hoe ver hy reeds gekom het. Ons is ongelooflik trots op hom en sien uit na wat die toekoms vir hom inhou,” sê sy.

Dirk speel reeds sy hele skoolloopbaan rugby, en Nicole meen die toer bied jong spelers die geleentheid om hul talent op internasionale vlak ten toon te stel en waardevolle ervaring op te doen.
“Sulke toere stel spelers bloot aan ander speelstyle, kulture en kompetisie buite Suid-Afrika. Dit dra nie net by tot hul sportontwikkeling nie, maar help ook om karakter, span-gees en selfvertroue te bou,” verduidelik sy.
Nicole sê die gesin was oorweldig van trots toe hulle hoor Dirk is vir die toer gekies.
“Daar was trane van blydskap, want ons weet hoeveel harde werk, opoffering en ure se oefening agter hierdie geleentheid lê. Ons het nog altyd sy passie vir rugby gesien, maar om te sien hoe dit hom tot hier gebring het, maak ons harte vol dankbaarheid,” sê sy.
LEES OOK: Echoes of Krugersdorp: The powerful legacy behind the Paardekraal Monument
Sy voeg by dat die geleentheid vir die gesin oor veel meer as net rugby gaan.
“Dit voel soos ’n droom wat besig is om waar te word. Ons is trots op hom – nie net oor wat hy op die veld bereik nie, maar ook oor die jong man wat hy besig is om te word.”

Die toer bring egter ’n koste van byna R26 000 mee, en die gesin het onlangs ’n BackaBuddy-blad begin om fondse in te samel.
BackaBuddy link: Help Dirk sy rugby droom in Namibië bereik
“Dirk se droom is om homself verder as speler te ontwikkel, op hoër vlakke mee te ding en uiteindelik sy volle potensiaal in rugby te bereik. Hy glo harde werk, dissipline en toewyding is die sleutel tot sukses,” sê Nicole.
Sy voeg by dat Dirk se keuring die gevolg is van sy volgehoue harde werk, konsekwente spel en sterk span-gees.
