Wes-Randse nooddienste verleen hulp in Filippyne
Hulle vorm deel van die Suid-Afrikaanse noodleningsorganisasie Gift of the Givers se span wat hulp aan die Filippyne verleen nadat 'n tifoon dié land getref het.
Vier van die Wes-Rand Distrik Munisipaliteit se nooddienspersoneel is tans in die Filippyne en nog drie is op bystand vir ‘n tweede span om steun aan dié land te verleen nadat die tifoon Haiyan die land geteister het. Daar word beweer dat dit die ergste storm is wat nog op aarde gemeet is.
Manie Gouws, Andrew Elliott, Asanda Nomala en Gerhard Nieuwoudt is as vrywilligers deel van die Suid-Afrikaanse noodleningsorganisasie Gift of the Givers se soek- en reddingspan wat onder andere bestaan uit duikers, gevorderde lewensondersteuningsparamedici wat in waterredding spesialiseer en ondersteuning in primêre gesondheidsorg bied, ‘n traumadokter en ‘n pediater.
Dr Imtiaz Sooliman, die stigter van Gift of the Givers sê hulle het al die toerusting saamgeneem wat die soek- en reddingspan nodig het om vasgekeerde mense en -liggame te bevry.
“Dit is noodsaaklik om die liggame van geliefdes te kry sodat hulle naasbestaandes kan begin afskeid neem.”
Mediese voorrade, medisyne, hulp vir die vroue wat geboorte skenk, foeliekomberse om die pasgebore babas mee toe te draai, wondbedekking, sowel as hoë-energie- en proteïenaanvullings wat gereed vir gebruik is, is deel van die noodvrag.
Gouws sê dit is dié noodleningsorganisasie se derde internasionale uitreikoperasie vanjaar.
“Ons was in Januarie in Mosambiek na die vloede. ‘n Span paramedici en dokters het in Maart in Sirië gaan help toe die organisasie ‘n hospitaal te midde van die oorlog geopen het, en nou is ons in die Filippyne.”
Hy sê hulle het op 14 November omstreeks 8nm van Johanneburg af Dubai toe gevlieg van waar hulle na die Filippynse hoofstad Manila is om ‘n Filippynse reddingsgroep te ontmoet wat hulle na die areas geneem het waar hulp nodig is.
Sooliman sê Suid-Afikaners moet saam staan en die nasie in nood bystaan.
“Gift of the Givers (wat reeds sowat R2 miljoen skenk) is besig om ‘n houer vol benodigdhede bymekaar te maak wat per skip na die Filippyne gestuur gaan word.”
Dit sluit is ‘n verskeidenheid kosprodukte, nuwe klere, komberse, lakens, handdoeke, kookware, sanitêre doekies, weggooibare doeke en speelgoed.
“Die sukses van hierdie veldtog hang van die Suid-Afrikaanse nasie af.”
Mense wat wil help kan ‘n inbetaling in Gift of the Givers se Standard Bank-rekening met rekeningnommer 052278611, takkode 057525 doen. Gebruik die verwysingskode “Typhoon” wanneer ‘n inbetaling gedoen word.
Vir meer inligting besoek die webwerf www.giftofthegivers.org.
