Die bestuurder van die blouligvoertuig wat op 5 November 2011 vir Thomas Ferreira (wat toe 18 was) van sy motorfiets afgery het nadat hy deur ‘n rooi verkeerslig by die Windsor- en Paardekraalweg-kruising gejaag het, het vandag 3 Desember in die Krugersdorpse Landdroshof gehoor hoe Landdros Khan hom skuldig bevind op vier aanklagte van roekelose en nalatige bestuur, kwaadwillige beskadiging van eiendom, die versuim om die beseerde te help en om beserings te veroorsaak.
Semitjie was die motorbestuurder vir Gauteng se destydse LUR vir Behuising, Humphrey Mmemezi.
Ferreira was op pad Randfontein toe toe die ongeluk omstreeks 10uur plaasgevind het.
Sestien getuies het in die saak getuig en die meeste het onder eed verklaar dat Semitjie sonder enige sirene in die wit BMW X5 oor die kruising gejaag het. Net die voertuig se blou ligte was tydens die ongeluk aangeskakel.
Tydens Semitjie se verskyning op 26 Junie het die hof gehoor dat hy reeds twee gevorderde voertuigbestuurderstoetse nie kon slaag nie.
Semitjie het tydens ‘n verskyning in September vir Ferreira die skuld gegee en gesê dat Ferreira in hom vasgery het.

Ferreira het erge breinskade opgedoen en was vir verskeie weke in ‘n koma.
Die NUUS het met Priscilla Ferreira, Thomas se ma, tydens die verrigtinge gesels.
“Ons wil hê dat hierdie ‘n voorbeeld moet wees dat blou ligte gebruik mag word, maar nie misbruik mag word nie,” sê Priscilla.
Thomas se familie noem dat dit baie swaar gaan met hom en dat hy nooit weer dieselfde gaan wees nie.
“Ons as familie gaan nooit weer dieselfde wees nie; dit gaan baie moeilik met ons.”
Maar die Ferreira-gesin is baie tevrede met Landdros Khan se uitspraak en hoop Semitjie kry die swaarste straf.
Khan het tydens sy uitspraak gevra dat indien Semitjie sy sirene aangeskakel het, “kon die beskuldigde dalk die ongeluk verhoed het?”.
Semitjie sal tydens ‘n volgende verskyning gevonnis word.
