Local newsNews

Vierpotiges baljaar in strate

Vierpotiges hou daarvan om in die strate te wees, maar hoe veilig is dit?

Die strate is die plek waar vierpotiges graag wil wees, maar hoe nadelig is dit vir mens én dier?

Die NUUS het die afgelope tyd opgemerk dat vierpotiges, veral honde, vryelik in Krugersdorp se strate rondloop en het daarom besluit om kenners te vra wat gedoen kan word om ‘n geliefde dier binne die erf te hou.

Jolene Beyleveld, die woordvoerder van die Krugersdorp en Johannesburg Dierebeskermingvereniging (DBV) sowel as Julie Bezuidenhout, ‘n geakkrediteerde dieregedragskenner, sê dat dit baie belangrik is om honde te laat steriliseer.

“Reuns kan tewe op hitte van ver af ruik en sal daarom enigiets doen om by haar uit te kom,” sê Beyleveld.

Bezuidenhout noem dat dit nie beteken dat honde nie die kans sal gebruik om die strate in te vaar nie, maar dit sal dit beperk.

“Veral reuns sal dan nie meer net daarop fokus om by die tewe uit te kom nie.”

Sy sê dat reuns hulleself in groot gevaar stel omdat hulle teen mure, hekke, heinings en dies meer wil opklim en dit kan beperk wees as hulle gesteriliseer is.

“As ‘n teef gesteriliseer is, sal sy ook nie meer ‘n hitteseisoen hê nie.”

As diere hulle kans probeer waarneem om uit die erf te kom, sê Beyleveld dat dit belangrik is om seker te maak dat ‘n hond nie deur die palissadeheinings kan kom nie, want dit kan hulle beseer of gevaarlik wees.

“Die dier kan vassit of deur ‘n voertuig omgery word – maak dus seker dat die palissadeheining met gaas toegespan word.”

Dit is raadsaam om die diere in ‘n gebied te hou waar die mure te hoog is dat hulle daaroor kan spring.

Bezuidenhout sê die meeste honde wat in die straat losloop, is reuns op soek na tewe, of tewe wat pas kleintjies gehad het.

“Dit kan gevaarlik vir mens en dier wees wanneer ‘n reun ‘n teef wil dek, want hulle kan aggressief word.”

Sy noem dat verskillende reuns die teef kan dek en sy dan hulle kleintjies kry.

Die nadeel van rondloperdiere is dat ingevolge Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se verordeninge enigiemand op dié diere mag beslag lê.

Daarvolgens kan enige eienaar op wie se erf vreemde diere aangetref word en daarop oortree, sodanige diere na ‘n DBV-skut stuur of na ‘n skut neem wat deur die munisipaliteit aangewys is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button