Vleisie oor die kole op die Amerikaanse manier
'n Krugersdorpse inwoner was deel van 'n braaispan wat Suid-Afrika in die VSA gaan verteenwoordig het.
Wanneer dit by die gaarmaak van vleis kom, dan kan Allen Ridley van Krugersdorp dit volgens die Suid-Afrikaanse én die Amerikaanse styl doen.
Hy en nog vyf lede was die enigste span van Suid-Afrika wat in die Verenigde State van Amerika (VSA) aan twee BBQ-kompetisies gaan deelneem het. Hulle het hulself Braai-be-que gedoop.
Tydens die eerste kompetisie, die 25ste jaarlikse Jack Daniel’s World BBQ Kampioenskap in Lynchburg het hulle ure lank geswoeg en gesweet om seker te maak dat hulle vleis op die regte manier gerook word om beoordelaars te beïndruk.
“Ons was ook so ‘n bietjie stout, want ons het ons eie souse en speserye deur die doeane by die lughawens gesmokkel”, lag Allen.
Hy vertel dat daar ‘n groot verskil in die tradisionele manier van braai en dié van BBQ is.
“BBQ neem langer omdat die [gerookte] vleis oor ‘n lae temperatuur gaargemaak word. Braai word weer oor ‘n hoë temperatuur en in vinnige braaiperiodes gedoen.”
By die kampioenskap in Lynchburg het hulle darem nie met leë hande weggestap nie en het die Happiest Home in the Hollow-trofee sowel as ‘n kontankprys van 1 000 Amerikaanse dollar verower vir die beste internasionale span met die beste gees.
Sowat twee weke later het hulle ‘n kans gewaag by die World Food Championship wat in Las Vegas gehou is.
Daar het hulle nie so goed gevaar nie, maar vir Allen en sy span was dit beslis nie iets om oor hare te kloof nie.
“Ons het 34ste uit 85 spanne geëindig, wat glad nie sleg is vir ons eerste probeerslag nie. Ons het wel die eerste plek vir ‘n internasionale span gekry maar geen prys gewen nie, net spogregte.”
Hy sê alhoewel hy steeds baie lief is vir sy lamtjops, begin hy BBQ ook baie meer waardeer.
“Die kompetisie was regtig ‘n fantastiese ervaring en beslis my hoogtepunt vir die jaar.”
