Local newsNews

Windbuks mis kat se hart net-net

'n Egpaar wil mense waarsku om op die uitkyk te wees vir iemand wat moontlik onverantwoordelik rondskiet.

‘n Egpaar van Monument is dankbaar dat hulle geliefde kat goed herstel nadat ‘n korrel uit ‘n windbuks sy hart rakelings gemis het.

Daar was bloed oral – ons kon sien hy was in pyn en ons het hom dadelik veearts toe geneem vir noodbehandelingLarry Membrey

Eienaars van Duke, Larry en Lulu Membrey wat in Nicholas Smitlaan woon, wil graag die gemeenskap waarsku dat iemand vermoedelik onverantwoordelik met ‘n windbuks in die area rondskiet.

“Op Oukersaand het ons as familie buite saam gekuier toe iemand ons spesiale wit kat kritiek gewond het,” sê Larry.

Hy sê hulle het net ‘n skoot hoor afgaan en toe gesien hoe Duke van die muur waarop hy was gespring het en op die grond in pyn gaan lê het.

“Daar was bloed oral – ons kon sien hy was in pyn en ons het hom dadelik veearts toe geneem vir noodbehandeling.”

Lulu sê die personeel van die Rant-en-Dal Dierekliniek was baie behulpsaam en het vinnig te werk gegaan om Duke te stabiliseer.

“Hulle het vir my gesê dat hy aan skok ly en dat hulle nie seker is of hy dit sal maak nie. Dit was vir ons baie hartseer nuus.”

Sy sê dat Duke se X-strale gewys het hoe die korrel sy hart wonderbaarlik gemis het maar dat dit nog in sy lyfie vasgekeer is.

“Hy is die volgende dag op Kersdag geopereer en is goed versorg.”

Nege dae ná die voorval, op 3 Januarie het hy ten spyte van sy seer en steke weerskante van sy lyf luilekker op die mat gelê toe die NUUS ‘n foto van hom kom neem het.

“Hy raak nou vol draadwerk, want hy is nou my pasiënt en ek voer hom nou heerlike kos dat hy al sy nees optrek vir sy ander kos,” skerts Lulu.

Sy sê dat hy ook weer vir ‘n opvolgbesoek by die dierekliniek moet gaan om seker te maak dat sy wonde goed genees.

“Al het dit ons derduisende rande uit die sak gejaag, is ons dankbaar dat dit nou al so goed met hom gaan.”

Die egpaar het bevestig dat hulle ‘n saak van dieremishandeling by die Krugersdorp Polisiestasie oopgemaak het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button