CrimeEditor's choiceNews

Hope staatswapens en -ammunisie in huis versteek

Plofstofdeskundiges en die Wes-Rand Honde-eenheid is ook ontbied om te help met die ondersoek.

Polisie is tans besig om 18 vuurwapens en granate wat vermoedelik aan die staat behoort en gedurende die Feesseisoen deur die SAPD se Blitspatrollielede in ‘n huis in Ruimsig in Honeydew ontdek is, forensies te ondersoek.

Volgens adjudant-offisier Charl Theron van die eenheid wat in Krugersdorp gebaseer is, is die polisie ontbied nadat hulle inligting gekry het dat daar vuurwapens in versteekte kompartemente in ‘n klerekas in die huis in Setperklaan is.

“Tydens ondervraging het die inwoner van die huis aan polisie vertel dat hy slegs ‘n huurder is en dat hy nie van die wapens geweet het nie,” sê Theron.

‘n Groep patrollielede wat onder meer adjudant-offisier Theron, sersant Jacques Diedericks en konstabel Walso Peens insluit het die huis deursoek en later op verskeie vuurwapens en granate afgekom.

“Ons het later nog patrollielede laat kom, wat konstabels Scotch Modise en William Pelo, en kaptein Bafedile Walaza ingesluit het, om die eiendom verder te deursoek. Daartydens is daar nog wapens en opgesnyde magasyne ontdek wat in ‘n stoorkamer versteek was,” vertel Theron.

Plofstofdeskundiges en die Wes-Rand Honde-eenheid is ook ontbied om te help met die ondersoek.

Daar is beslag gelê op verskeie gewere en magasyne, onder meer ‘n R1 en Lee Endfields, handwapens soos Beretta .22’s en Colt .45’s, ’n antieke 1878 BSA .58, ‘n submasjiengeweer, verskeie geweerlope, bybehore vir AK 47’s, ‘n 9mm-knaldemper, 12-boorhaelgeweerrondtes, R5-rondtes, pantserkoeëls, splintergranate, Russiese skokgranate, rookgranate, seinfakkels, 1 000vt-fakkels en 15mm-potloodfakkels. Sommige van die wapens het reeksnommer, ander nie. Volgens Theron is die ammunisie wat in die huis gevind is staatseiendom.

‘n Totaal van 10 identiteitsdokumente is ook ontdek.

Die ammunisie is na die Honeydew Polisiestasie vir verdere ondersoek geneem en ‘n saak van besit van ongelisensieerde vuurwapens is geopen.

Geen arrestasies is tot dusver gedoen nie en die polisie is tans op soek na die huiseienaar.

Distrik Polisiekommissaris Majoor-Generaal Oswald Reddy het die span polisielede geluk gewens met hul goeie werk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button