CrimeEditor's choiceNews

Vermoorde man in tuin begrawe: Polisie soek antwoorde

Daar is nog baie onbeantwoorde vrae oor die moord van 75-jarige man.

Speurders is tans besig om elke moontlike leidraad op te volg om vas te stel hoe en deur wie ‘n 75-jarige man in sy huis in Krugersdorp-Noord vermoor is.

Wat eers ‘n saak van ‘n vermiste persoon was, het ‘n moorddossier geword nadat Krugersdorp Polisie omstreeks 11.59vm op Maandag 6 Januarie op die pensioenaris se lyk in ‘n vlak graf in sy eie tuin afgekom het.

Volgens Krugersdorp SAPD-woordvoerder Tshepiso Mashale was die man, wie se naam aan die NUUS bekend is, sedert Vrydag 4 Januarie vermis en polisie het besluit om sy huis en erf te deursoek .

“Hulle het ‘n verdagte sandhoop in die tuin ontdek waaronder hulle later die liggaam moes uitgrawe,” sê sy.

Die liggaam wat volgens ondersoekbeamptes reeds etlike dae in die tuin versteek was en in linne toegedraai was, het begin ontbind en sleg geruik.

Kort na die ontdekking het polisie die huis en erf afgesper en die eens rustige pensioenariswoning het gou van forensiese deskundiges gewemel.

Die NUUS is verbied om die eiendom te betree maar is ingelig dat die huis skoongemaak is voor die aankoms van die polisie.

Volgens Mashale wag ondersoekbeamptes vir die uitslag van ‘n lykskouing om te bepaal presies hoe die man vermoor is.

“Ons wag vir daardie inligting maar intussen duur die ondersoek voort,” sê sy.

Sy noem dat die motief vir die moord onbekend is en dat geen eiendom vermis word nie.

Geen arrestasies is tot op datum gedoen nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button