Local newsNews

Betogers rig derduidende rande se skade aan

'n Houtvervaardiger in Chamdor is deur betogers van Kagiso geteiken wat hulle houtvoorraad met petrolbomme aan die brand gesteek het.

“Die oomblik wanneer jou foon lui en jy die tyding kry dat jou werkplek brand, dan dink jy die ergste het gebeur.”

“Ons is hier om tot die gemeenskap en ekonomie by te dra”Adriaan Aggenbach, algemene bestuurder van die RSB Houtvervaardigersgroep.

Só beskryf Adriaan Aggenbach, algemene bestuurder van die RSB Houtvervaardigersgroep die oomblik toe betogers van Kagiso Uitbreiding 1 sowat R100 000 se skade tydens ‘n protesaksie in Chamdor aangerig het.

Die betogers het die paaie rondom die houtvervaardiger op die hoek van Mclean- en Pillansstraat met gebrande motorbande, klippe, stokke en ‘n betonmangatdeksel afgesper om hulle ontevredenheid met Mintails se mynbedrywighede te toon.

“Hulle het petrolbomme na ons geboue en hout gegooi waarna die hout vlam gevat het,” verduidelik Aggenbach.

Hy sê in sowat twee dae het hulle tot ses petrolbomme getel, waarvan een nie afgegaan het nie.

“Meer as R7 000 se skade is aangebring toe die betogers sowat 400 ruite met klippe uitgegooi het.”

Meer as R7 000 se skade is aangerig toe betogers sowat 400 ruite by die RSB Houtvervaardigersgroep in Chamdor met klippe uitgegooi het.
Meer as R7 000 se skade is aangerig toe betogers sowat 400 ruite by die RSB Houtvervaardigersgroep in Chamdor met klippe uitgegooi het.

Die maatskappy wat al vir meer as tien jaar in Chamdor geleë is, het tans sowat 100 permanente werknemers in diens. Aggenbach sê hy is bekommerd oor die voortbestaan van die besigheid, maar ook of hulle werknemrs hulle werk sal kan behou.

“Ons het absoluut niks met hulle ontevredenheid te doen nie, maar nou moet ons ook daarby betrek word,” sê hy.

“Hierdie protesaksie benadeel ons as besigheid baie omdat dit ons produksie knou en verliese aan voorraad meebring.”

Die besigheid verskaf onder andere afgewerkte vensterrame, deure, deurrame en gelamineerde balke met sowat R5 miljoen se omset ‘n maand en Aggenbach is van mening dat as die betogers gaan aanhou om hulle eiendomme te beskadig, dit die besigheid gaan knou.

“Werksgeleenthede is reeds skaars en as dit aanhou kan dit beteken dat ons almal sonder werk sit. Ons is hier om tot die gemeenskap en ekonomie by te dra.”

Vanoggend 13 Januarie het die personeel van die houtvervaardiger gesien hoe meer as 300 betogers ‘n bakkie van ‘n maatskappy bestorm wat drukkers vervaardig en die drukkers wat agterop was, gebuit het.

Johan Cronjé en Wiehan van der Merwe, die direkteure van Mapogo A Mathamaga, die maatskappy wat ‘n sekuriteitsdiens aan RSB Houtvervaardigers lewer, sê hulle werk is om die eiendom van sy kliënt te beskerm, maar dat die betogers dit moeilik maak omdat hulle eie personeel aan gevaar blootgestel word.

“Ons personeel word deur die betogers geïntimideer,” sê Cronjé.

Aggenbach sê hy het net lof vir die polisie en brandweer wat onder dié omstandighede uitkom om hulp te verleen.

‘n Saak van brandstigting en kwaadwillige saakbeskadiging is by die polisie geopen.

Die NUUS het adjudant-offisier Solomon Sibiya, ‘n polisiewoordvoerder vir die Kagiso Polisiestasie probeer kontak, maar hy kon nie vir kommentaar bereik word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button