CrimeNews

Twee gesinne deur gewapende rowers vasgebind

Die rowers ry rond in in 'n Silwer Audi A4.

‘n Groep gewapende rowers teiken Krugersdorp na bewering al vir etlike weke en het Vrydagoggend 10 Januarie omstreeks 10vm op Noordheuwel toegesak.

‘n Ooggetuie (anoniem om veiligheidsredes) wat gesien het hoe die groep ‘n gewapende roof in Kathleenstraat uitvoer, het sy ervaring met die NUUS gedeel.

“Dit was omstreeks 10vm toe ‘n inwoner in die straat om hulp geroep het. Ek het iemand na die huis gestuur terwyl ek ‘n oproep gemaak het om die sekuriteitsmaatskappy te ontbied.”

Intussen het een van die rowers ‘n wapen op die man gerig wat gaan ondersoek instel het, en hom gewaarsku om homself uit die voete te maak.

“Die groep het voorgegaan om besittings uit die huis te dra en dit in ‘n silwer Audi A4 te laai. Hulle het later van die toneel gevlug.

“In die huis waar die rooftog plaasgevind is, het ‘n vrou en haar twee kinders op die grond gelê en hul hande was vasgebind.

“Niemand is beseer nie,” vertel die ooggetuie.

Agter die spesifieke huis is ‘n ander ma en haar dogter ook vroeër die dag vasgebind en van hul eiendom beroof.

Plaaslike sekuriteitsmaatskappy EPR waarsku inwoners om op die uitkyk te wees vir ‘n verdagte silwer Audi A4 en om dadelik die polisie te kontak as hulle vermoed dat hulle die rowers gesien het.

“As die voertuig stadig op en af in ‘n sekere straat ry of lank voor een plek stilhou, moet die polisie dadelik ontbied word. Die groep is gewapen en is dus gevaarlik,” waarsku EPR operasionele hoof Mac van Zyl.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button