Man sterf na hy deur rowers geskiet is
'n Man van Dan Pienaarville wat sy gemeenskap se belange eerste gestel het, is voor sy woonplek deur rowers geskiet.

Hy het altyd als gelos om sy gemeenskap in tye van nood te help en toe word hy self ‘n slagoffer van misdaad.
Hennie Wagner (47) van Dan Pienaarville het Sondagmiddag 19 Januarie met sy lewe geboet toe vermeende rowers hom by sy woonplek geskiet het.
Hennie se broer, JD (45) wat gesien het hoe die rowers sy broer voor die huis in Van Ryneveldstraat skiet, het tydens ‘n hartroerende onderhoud saam met sy ma Sus (75) en suster Marié Putter (52) die verloop van die gebeure aan die NUUS vertel.
“Sy vrou, Monique, was op pad om te ry en daarom het sy reeds die elektroniese hek oopgemaak.”
Hy sê toe sy omdraai, sien sy twee onbekende mans by die hek staan.
“Die een rower het ‘n vuurwapen op haar gerig en aangedring dat sy haar beursie vir hom moet gee. Daarna het hy ook vir haar selfoon gevra.”
Dit was op daardie tydstip dat Hennieby die huis uit is en sien wat gebeur.
Hy het na hulle toe gestap en dit wil voorkom of daar ietwat van ‘n struweling was. Om 16.45nm het skote buite die hek afgegaan wat hom getref het.
JD het toe gesien hoe sy broer geskiet word en het dadelik ‘n private ambulans ontbied.
Die diens wat hy van daardie maatskappy gekry het, bestempel hy as onprofessioneel omdat die persoon met wie hy gepraat het, hom na bewering nie verstaan het nie.
“Omdat ek besef het dat tyd in daardie stadium kosbaar was en omdat my broer besig was om baie bloed te verloor het ons met hom per motor na die Netcare Krugersdorp Hospitaal toe gejaag terwyl ander familielede sy wonde toegehou het.”
By die hospitaal is hy deur die traumapersoneel, vir wie JD net lof het, behandel.
“Hy is by die teater ingestoot sodat die dokters die bloeding kon keer, maar hy het dit nie oorleef nie en is omstreeks 6.30nm op die teatertafel oorlede.”
Sus het hard probeer om die trane te sluk toe sy oor haar seun praat.
“Ek was baie lief vir my kind en hy was my hart se punt. Hy sou altyd alles gelos het om my te help en het nooit gehuiwer om my raad te vra as hy oor iets gewonder het nie.”
Marié sê sy sal hom onthou as ‘n sportmal Leeu-rugbyondersteuner.
“Hy was lief vir sy sport, die buitelewe en vuurmaak. Hy sou ook enigiets vir sy gemeenskap doen en hulle help waar hy kon want hy was ‘n omgeemens.”
Rinie Oosthuizen, skakelbeampte vir GPF Sektor 3 sê hulle betuig hulle meegevoel teenoor die familie en naasbestaandes.
“Dit is vir ons altyd hartseer om iemand as gevolg van misdaad te verloor.”
Hennie laat sy ma, vrou, drie kinders, een broer en drie susters agter.
Sy begrafnisdiens vind Vrydag 24 Januarie om 11vm in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Krugersdorp-Noord plaas. Die diens sal deur ds Pieter Fourie behartig word.
