CrimeNews

Huurmoordenaars pleit om versagting na mislukte moord

Die beskuldigdes pleit om versagting.

‘n Krugersdorp-vrou en haar sogenaamde medepligtiges vir wie sy R50 000 sou betaal om haar man te vermoor het Woensdag 22 Januarie in die Krugersdorpse Landdroshof verskyn.

Beskuldigde nommer een Chris Koch (39), nommer twee Heinrich Croft (27) en Elize Vermaak is voorheen deur die hof skuldig bevind op aanklag van poging tot moord op Elize se man, Jacques Vermaak en moes Woensdag vir vonnisoplegging in die hof verskyn.

Die drie beskuldigdes het om versagting van hulle moontlike vonnisse gepleit en verskeie getuies het een vir een onder eed verduidelik hoekom die hof genadig teenoor Koch, Croft en Vermaak moes wees.

Die saak sloer al vir amper vier jaar en verskeie verwikkelinge sedert die aanval op Valentynsdag 2010 is deur die hof aangehoor.

Koch, wat sedert 2012 in aanhouding is nadat hy vir die polisie gevlug het, het as deel van sy pleidooi om versagting aan die hof gesê dat hy nie meer dieselfde persoon is nie.

Hy het beweer dat hy ten tye van die misdaad onder die invloed van dwelms en drank was en dat die aanval nie sou plaasgevind het indien hy by sy volle positiewe was nie.

“Ek is nou gerehabiliteer en is klaar met dwelms,” het hy aan die hof gesê.

Hy het ook genoem dat hy die Hindu-geloof aangeneem het en dat sy geloofsoortuigings die rede is hoekom hy ‘n goeie landsburger wil wees, en nie weer by onwettighede betrokke sal raak nie.

Die hof het aan Koch die vraag gestel of hy berou het, waarop hy geantwoord het dat hy vir die Vermaak-gesin om verskoning wil vra. Hy het die Vermaaks se seun uitgesonder wat die aanval op sy pa gesien het.

Koch het ten slotte aan die hof gesê dat hy ‘n goeie kandidaat vir waarneming of huisarres sal wees.

‘n Proefbeampte het namens Croft om versagting gepleit en het gesê dat hy gedwing is om die mes waarmee hy vir Vermaak 14 keer gesteek het as wapen te gebruik.

“Croft is gesê dat hulle die man net ‘n bietjie moet skrikmaak, maar ten tye van die aanval is hy geforseer om hom met ‘n mes te steek,” het hy beweer.

In teenstelling met verklarings het Croft ook ontken dat hy die dag van die aanval onder die invloed van dwelms of drank was.

Daar is ook gesê dat Croft aan diabetes ly en dat hy nie “goed sou vaar in aanhouding nie”.

Croft moes volgens getuies slegs ‘n boete betaal.

Die hof het tot 23 Januarie verdaag wanneer daar met die verrigtinge voorgegaan sal word. Die NUUS sal lesers op hoogte hou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button