Vermoorde man in sy tuin begrawe: verdagte verskyn in hof
Hy het nie net gebieg oor die feit dat hy nie geld het om vir sy ete te betaal nie, maar het ook erken dat hy 'n man vermoor het.
‘n Man wat gearresteer is in verband met die moord op Krugersdorp inwoner Neville Ross (75) sal 19 Maart weer in die Krugersdorp Landroshof verskyn nadat die saak uitgestel is.
Die 31-jarige verdagte het etlike dae na die moord teenoor ‘n kelner erken dat hy Ross vermoor het en hom in sy tuin begrawe het.
Die hof het die saak uitgestel om speurders genoegsame tyd te gun om bewyse in te samel wat die verdagte moontlik met die moord kan verbind.
Sekere verklarings, forensiese dokumentasie en die uitslae van die lykskouing was ten tye van die hofsaak op 22 Januarie nog uitstaande.
Vermoorde man in sy tuin begrawe
Dit lees soos ‘n speurverhaal – ‘n man word vermoor en in sy eie tuin begrawe; kort daarna deel die moordenaar die grusame detail van die moord met ‘n kelnerin aan die kus.
Die NUUS het op 6 Januarie berig oor die moord op oudmusiekonderwyser en bekende naam in Krugersdorp, Neville Ross nadat polisie sy liggaam onder ‘n boom in sy tuin in Krugersdorp-Noord gevind het. Etlike dae later is sy vermeende moordenaar in Durban vasgetrek.
Volgens kolonel Luke Enslin van die Krugersdorp SAPD het die verdagte middagete by ‘n bekende restaurant in Umhlanga Rocks geëet. Toe dit tyd word om die rekening te betaal, sit hy ‘n brief in plaas van kontant in die kelnerin se hand.
“Die diens was goed maar ek kan ongelukkig nie die rekening betaal nie,” het die inleiding van die brief gelees.
“Verder vertel die verdagte in die brief van sy lewe en daarna het hy beskryf hoe hy die moord op Ross gepleeg het,” sê Enslin.
Die kelnerin het onmiddellik na haar bestuurder gegaan en die polisie is ontbied.
“Die verdagte is in Krugersdorp in aanhouding geplaas en sal binnekort in die hof verskyn,” sê Enslin.
‘n Betroubare bron het aan die NUUS vertel dat die verdagte intieme besonderhede oor die dag van die moord vertel het.
Hy het na bewering vertel dat hy die huissleutel in ‘n dam in Krugersdorp gegooi het en het ook genoem dat hy ‘n horlosie wat aan Ross behoort het aan ‘n pandjieswinkel verkoop het.
Volgens Enslin wag die polisie steeds op die uitslae van die lykskouing om vas te stel presies hoe en wanneer Ross vermoor is.
Ross het alleen gewoon, was ongetroud en het geen kinders gehad nie.
