Geen ernstige beserings na ongeluk in Voortrekkerweg nie
Die insittendes van albei voertuie het gelukkig geen ernstige beserings opgedoen nie.
‘n Nissan-bakkie sal moontlik afgeskryf word nadat dit Saterdag 25 Januarie met ‘n Toyota Corolla gebots het.
Gelukkig het niemand ernstige beserings opgedoen in die ongeluk wat omstreeks 12.25nm op die hoek van Voortrekkerweg en Van Oordtstraat plaasgevind het nie.
Volgens ‘n paramedikus op die toneel het die man wat die Nissan bestuur het se pa hom van die toneel af weggeneem terwyl die bestuurder van die Corolla en haar kinders na ‘n nabygeleë hospitaal geneem is om seker te maak dat hulle nie enige beserings tydens die impak opgedoen het nie.
Volgens inligting wil dit voorkom of die bestuurder van die Corolla uit Key West winkelsentrum se rigting regs in Van Oordstraat wou draai toe die bestuurder van die Nissan, wat uit Roodepoort se rigting gekom het, na bewering teen ‘n hoë spoed deur ‘n rooi verkeerslig gejaag het.
Lede van die Sektor 7 Gemeenskapspolisiëringsforum was gou op die toneel om die verkeer te herlei.
