Die vlaag van mishandeling, aanranding en verkragting van kinders in Suid-Afrika is kommerwekkend en die Vryheidsfront Plus vra strenger optrede teen mense wat misdade teen kinders pleeg, sê Amanda de Lange, VF Plus-woordvoerder oor vroue-aangeleenthede.
Die jongste voorval (by ‘n dagsorgsentrum in Pretoria waar oplettende ouers daarvan bewus geraak het dat hul kinders aangerand en verwaarloos word) dui ook daarop dat werkende ouers dit nie as vanselfsprekend kan aanvaar dat hul kinders veilig is in ‘n sorgsentrum nie.
Tarlton-inwoner De Lange sê dat kinders die mees weerlose deel van ‘n gemeenskap is en dat alles moontlik gedoen moet word deur alle rolspelers om hulle te beskerm.
“Dit is selfs skokkend om in die media te sien hoe ouers hul kinders toelaat om by ‘n motorruit uit te hang en foto’s te neem van leeus in die Krugerwildtuin. Dit ondanks die feit dat daar onlangs berig is oor verskeie voorvalle waarin mense deur wilde diere aangeval is.
“Sulke optrede is onverstaanbaar en uiters nalatig. Die ouers behoort aangekla en permanent die wildtuin verbied te word.
“Die vrouekomitee van die VF Plus vra dat daar streng opgetree sal word om die euwel van misdaad teenoor kinders in ons samelewing uit te roei,” sê De Lange.
