Karvaankampatleet (16) skenk geboorte: eksklusiewe foto’s
'n Gesonde babaseuntjie is voor middagete gebore.
Kroningspark-inwoner Irene van Niekerk – of die nuwe “Zola Budd” soos sy deur die media gedoop is weens haar besondere talent op die atletiekbaan – het die wêreld aan die gons gehad toe dit bekend geword het dat sy verlede jaar op die ouderdom van 15 swanger geraak het.
Die jong Irene het aanvanklik bekendheid verwerf met haar inspirerende lewensverhaal – ‘n jong meisie uit ‘n wit plakkerskamp wat ten spyte van haar omstandighede reeds vroeg in haar loopbaan oor die 27 gouemedaljes op nasionale vlak verower het.
Die NUUS het berig hoe staatsgesondheidsdienste die atleet gedurende haar swangerskap gefaal het en dat sy kort voor haar bevallingsdatum ingelig is dat sy moontlik ‘n tweeling verwag.
Die groot vraag op almal se lippe was of die tiener ooit weer sal hardloop.
Op 28 Januarie omstreeks 11.17vm het Irene geboorte geskenk aan ‘n gesonde babaseun en volgens haar ma Irene snr het ‘n nuwe hoofstuk in die Van Niekerk-gesin se lewe begin.
“Hy was heeltemal gesond en het 4,2kg by geboorte geweeg,” vertel Irene snr.

“Nou kan sy weer verder aan haar toekoms bou en die mense naaste aan haar sal by haar staan.”
Irene snr vertel dat hoewel die lewe in die plakkerskamp maar moeilik is en hulle dit nie altyd “breed het nie”, sy alles in haar vermoë sal doen om die lewe vir haar kleinkind en dogter draaglik te maak.
Volgens haar ma sal die atleet so gou as Maart vanjaar weer in die gimnasuim wees en sal sy ook kort daarna weer haar hardloopskoene aantrek.
“Sy wil ook so gou moontlik teruggaan skool toe,” vertel sy.
Irene het besluit om die baba Jayden Lourens van Niekerk te noem aangesien daar reeds vroeg gedurende die swangerskap besluit is dat die seuntjie na ‘n pastoor en familievriend Lourens Groenewald vernoem sou word.
Die NUUS sal Irene later in Dr Yusuf Dadoo Hospitaal besoek.
