‘n Huis in Krugersdorp-Noord is letterlik oornag van alles wat waardevol is gestroop.
Marion Filipe wat ‘n paar huise van De Wetstraat 100 bly, wat deesdae ‘n seer oog vir die gemeenskap geword het, sê sy glo dat die meeste van die huisitems gedurende die nag gebuit is.

“Elke oggend wanneer ek in die straat afry sien ek dat iets anders weg is,” vertel sy.
Dié tweeslaapkamerhuis en die aparte woonstel op die perseel was einde September verlede jaar nog bewoon.
“Nadat hulle getrek het, het die huis vir sowat twee maande lank leeggestaan voordat ons agtergekom het dat die twee hekke weggeraak het.”
Met die NUUS se besoek op 28 Januarie is daar opgemerk dat die huis, wat duidelik in ‘n goeie toestand was, nou heeltemal vervalle geraak het.
Van die plafonne, badgeriewe, houtvloere, venster- en deurrame sowel as die geisers is gebuit.

Filipe sê dat nie sy of die ander bure ooit gehoor het dat iemand daar besig is nie.
“Hulle moes duidelik snags gekom het wanneer ons geslaap het en baie sag te werk gegaan het.”
Sy sê die eiendom word nou ‘n skuilplek vir misdadigers en dit hou ook ‘n gesondeidsrisiko in weens ontlasting wat binne die huis lê en rotte wat daar broei.
Dit lyk of mense van die gemeenskap ook nou hulle bourommel op die perseel stort.

“Ek wil weet wie die eienaar van die perseel is, want hy moet aanspreeklikheid aanvaar vir die toestand waarin die eiendom verval het.”
Filipe sê sy het gehoor dat die eienaar in die buiteland is, maar is nie seker of dit die geval is nie.
“Miskien weet hy nie eers dat sy eiendom verlate is nie.”
Enigiemand wat meer inligting oor die huis se eienaar het, kan gerus die NUUS by 011 955 1130 kontak.
