Dit blyk dat Affinislaan in Breaunanda ‘n renbaan geword het.
So meen Louise Gouws-Steyn, ‘n inwoner van dié straat wat aan Roodepoort grens, oor die aantal motoriste en motorfietryers wat die spoedbeperkings en padtekens verontagsaam.
“Hulle jaag verskriklik met die pad af en dit hou ‘n gevaar vir ander padgebruikers en voetgangers in,” sê sy.
“Dit is veral erg oor naweke, veral Vrydagaande en Saterdae.”
Sy sê haar seun, Martin Brown wat al jare lank van die nek af verlam is, ry gereeld by sy erf uit om sy ander eiendomme wat hy uitverhuur te inspekteer of daar te kuier.
“As die motoriste so jaag, watter kans het my seun om vinnig genoeg uit hulle pad te kom? Hy staan nie ‘n kans nie en dan spot hy nog dat dit hom nie verlam sal laat word nie. Dit kan hom egter in baie ander opsigte affekteer,” stel Gouws-Steyn haar standpunt.
Sy wys die eiendomme uit waar voertuie al vantevore deur die mure gebars het, waaronder dié van die Sterlig Aftree-oord.
“Ek dink die enigste oplossing is om dalk twee spoedhobbels in die straat op te rig, want dit sal voertuie se spoed breek.”
Sy sê die ander probleem is die verkeersteken waar Naboomstraat in Roodepoort en Affinislaan in Krugersdorp by mekaar aansluit. Die NUUS het tot die gevolgtrekking gekom dat dié teken verwarring veroorsaak omdat dit tegelykertyd ‘n stop- en ‘n toegeeteken is.
“Dit is ‘n ongeluk wat wag om te gebeur. Daar is ‘n draai in Affinislaan en as ‘n motoris die toegeeteken-reël toepas, kan ‘n ander voertuig wat om die draai kom, maklik ‘n botsing veroorsaak.
“Nou ry hulle net oor sonder om regtig vir ander verkeer uit te kyk.”
Sy wys ook die plek uit waar daar tevore ‘n stopteken op die hoek van Zebrina- en Affinislaan was.
“Hier ry die mense ook net, want daar is nie meer ‘n stopteken nie alhoewel daar nog kennisgewings op die pad geverf is.”
Indien ons lesers dieselfde mening oor dié pad het, kan hulle gerus kommentaar hier onder lewer.
Straat is nie renbaan nie
https://www.youtube.com/watch?v=f2dx3YX_r5E&feature=youtu.be
