
“Beeldmateriaal wys duidelik dat die man met sy broek op sy kneë voor ‘n bejaarde vrou se bed staan.”
So beskryf Krugersdorp SAPD-woordvoerder Tshepiso Mashale die gebeure wat op kringtelevisie vasgevang is nadat ‘n vermeende inbreker Saterdagnag 8 Februarie toegang tot ‘n plaaslike ouetehuis verkry het.
Volgens Mashale is dit nie bekend hoe die verdagte dié nag by die ouetehuis ingekom het voordat hy in een van die kamers betrap is nie.
“In die kamer het hy tot by ‘n inwoner se bed gestap, sy broek losgemaak en afgetrek.”
“Die inwoner het gegil en die man het uit die kamer gestorm waar hy deur ‘n verpleegster betrap is,” verduidelik sy.
Daar word verneem dat die verpleegster hom probeer vang het maar dat hy gevlug het.
Intussen is die man op die polisie se lys van gesoekte misdadigers geplaas.
Die beeldmateriaal sal gebruik word om ‘n identikit van die verdagte saam te stel, wat aan die NUUS verskaf sal word.
Bestuur by die ouetehuis het bevestig dat daar ‘n inbraak was en dat ‘n saak by die Krugersdorp SAPD geopen is maar het geweier om kommentaar oor die besonderhede van die inbraak te lewer.
