Local newsNews

Waarskuwing: grafiese foto’s van aanval op bejaardes

Een is met 'n mes gesteek en die ander met 'n hamer in die gesig geslaan maar die bejaarde egpaar het dit oorleef.

In die 31 jaar sedert Hannes (61) en Hannetjie (66) le Roux in hul huis in Noordheuwel woon, was die bejaarde egpaar nooit slagoffers van enige vorm van misdaad nie, maar op 28 Januarie het alles verander.

Hannes was besig om buite die huis te werk toe twee onbekende mans sy erf binnekom.

“Die mans het navraag gedoen oor ‘n werker van my, en die volgende oomblik is ek en een van my ander werkers beveel om die sekuriteitshek van my huis oop te sluit en om hulle in te laat,” vertel hy.

Binne etlike oomblikke het die Le Roux’s se huis in ‘n slagveld verander.

“Toe ons instap het een van die mans ‘n mes en geweer uitgepluk. Hy het my grond toe gegooi en meubels is heen en weer gegooi; ons het lank met mekaar gestoei.”

Uit die hoek van sy oog het Hannes gesien hoe sy werker met ‘n mes gesteek word en daarna reggekry het om te ontsnap.

“Hy het by die bure gaan hulp soek en sekuriteit ontbied.”

Elders in die huis is Hannes se vrou, Hannetjie en hul 15-jarige kleindogter en drie van haar vriendinne intussen met ‘n vuurwapen aangehou en beveel om in ‘n ry te staan.

“Hulle het geld en skootrekenaars gesoek en almal wat selfone gehad het moes dit oorhandig,” vertel Hannetjie.

Hannes het aangehou om met die een man in die sitkamer te stoei en hom uiteindelik uit die huis gekry.

“Ek het geweet dat die ander man nog in die huis is en het dadelik na my vrou en die kinders gehardloop waar ek die geveg voortgesit het. Ek kon die tweede man ook uiteindelik uit die huis kry en albei het gevlug.

“Ons was verlig en dankbaar dat ons leef. Ons wil dit net nooit weer oorhê nie,” vertel Hannetjie.

Maar presies vyf dae later, op Maandag 3 Februarie omstreeks 1vm is die egpaar en hul kleindogter se grootste vrese bewaarheid – die rowers was terug.

“Dit was soos ‘n fliek. Ons was almal in die hoofslaapkamer toe ons ‘n harde geluid hoor en skielik vier gemaskerede mans deur die plafon sien val,” vertel Hannes.

Die Le Roux’s se kleindogter, wat twee van die rowers herken het van die vorige inbraak nadat hulle die maskers afgehaal het, is beveel om stil te sit en stil te bly.

Die rowers het daarna met aggressie op die egpaar toegesak. Hannetjie is met ‘n hamer in haar gesig geslaan en Hannes twee keer met ‘n mes in die bors gesteek.

Die bed waarop Hannes hom amper doodgebloei het.
Die bed waarop Hannes hom amper doodgebloei het.

“Hulle wou die kluissleutel hê,” vertel Hannes.

Terwyl drie van die rowers die huis gestroop het, het die ander lakens om Hannes se kop en komberse om sy lyf gedraai.

“Hulle wou my versmoor.”

Hannes wat teen daardie tyd al ‘n groot hoeveelheid bloed verloor het, sê dat hy net vir kort oomblikke sy bewussyn herwin het.

“Ek was seker ek gaan sterf.”

Hannetjie is beveel om vir die mans te wys waar hulle die kar parkeer.

“Ek moes die kar aansluit en uitklim, toe het die vier ingeklim en gevlug.”

Toe dit stil word het die Le Roux’s se kleindogter die straat ingehardloop om hulp te soek. Inwoners verder af in die straat het uiteindelik kom help en die ambulansdienste is ontbied.

Na dae in die intensiewe sorg-eenheid van die Netcare Krugersdorp Hospitaal is Hannes ontslaan en sterk nou by die huis aan.

Die egpaar en hul kleindogter het hul storie aan die NUUS vertel om mense daarvan bewus te maak en doen ‘n beroep op Krugersdorp-inwoners om veiligheidsmaatreëls in plek te stel.

“Moenie dink dat dit nie met jou kan gebeur nie – dit kan,” waarsku Hannes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button