Motorwenner glo haar geloof het die deurslag gegee
'n Vrou van Klerksdorp het vier ure op die pad deurgebring met die hoop dat sy as die gelukkige wenner van 'n splinternuwe motor sou wegstap.
Met geloof het ‘n vrou altesaam vier ure op die pad deurgebring met die hoop dat sy ‘n splinternuwe motor sou wen.
Lombard Bande het van November verlede jaar tot 11 Januarie vanjaar ‘n promosie by al 19 hulle kleinhandeltakke gehad waar klante vir die kompetisie in aanmerking sou kom as hulle twee bande gekoop het.
Slegs 19 finaliste uit altesaam 5 887 inskrywings wat ontvang is, is vir die kompetisie getrek, waarvan een finalis van Meadowdale nie opgedaag het nie.
Met opgewondenheid en ‘n senuagtige knop in die keel moes die finaliste elk ‘n nommer trek waarna hulle in daardie volgorde die geleentheid gekry het om ‘n sleutel op die tafel te kies.
In daardie volgorde moes die finaliste die knoppie op die sleutel druk om te kyk of dit ‘n Kia Picanto, dieselfde soort as die motor wat op die spel is, sou kon oopsluit.
Nadat verskeie finaliste se sleutels nie die motor kon oopsluit nie, het ‘n gejuig opgegaan toe die sleutel van Mefia Bontes van Klerksdorp in Noordwes die wensleutel was.

Sy het aan die NUUS vertel dat dit ‘n ongelooflike gevoel is om die wenner van ‘n Kia Picanto te wees en sê dat sy nie woorde het om die gevoel te beskryf nie.
“Ek het nog altyd aan kompetisies deelgeneem en het vir myself gesê die dag wanneer ek wel ‘n motor wen dan moet dit rooi wees.”
Sy sê dat sy ‘n gelowige vrou is en dat sy voor die trekking reeds gebid het dat die Here vir haar die regte sleutel moes uitwys.
Mauritz Lombard, eienaar van Lombard Bande sê dit was die grootste kompetisie wat hulle nog aangebied het.
“Ons het in die verlede groot gholftoernooie geborg, maar ons doel was om ons kliënte ‘n kans te gun om deel te wees van ‘n promosie met ‘n behoorlike en nuttige prys vir die gelukkige deelnemer.”
Hy sê hulle is bly dat die kompetisie goed afgeloop het en dat die wenner baie gelukkig is.
“Die wenner was oorstelp van verbasing en vreugde. Ons is seker dat sy die motor vir haar plesier en gerief goed sal benut.”
Selfs die personeel van die takke is nie oorgeslaan nie en daar is ook kompetisies vir die Lombard-personeel gehou.
Yolandi Heyns, bemarkings- en kommunikasiebestuurder van Lombard Bande sê dit is gedoen om die personeel te motiveer om die promosie aan te bied en hulle verkope met die bemarkingsveldtog ‘n hupstoot te gee.
“Die tak met die meeste inskrywings was die Supa Quick-tak in Luipaardstraat en al die personeel van die tak is met ‘n wegneemete van hulle keuse beloon.”
Die verkoopspersoon wat die meeste inskrywingskaartjies gehad het, stap met R2 000 weg.
“Oor die algemeen was die promosie ‘n reuse sukses en ons het beslis baie meer voete in vergelyking met vorige jare by die takke gehad,” sê Heyns.
