Local newsNews

‘n Gedaanteverwisseling met kostuums

By Hollywood Costumes kan jy jouself vergaap aan die meer as 'n miljoen kostuums wat daar beskikbaar is.

“Hier kan jy instap en ‘n superheld wees.”

Só sê Heidi du Toit, eienaar van Hollywood Costumes in Krugersdorp-Wes wat mense die geleentheid bied om in enige karakter van hulle keuse te verander.

Die gebou wat buite in die vorm van ‘n kasteel is, nooi jou as ‘t ware na binne waar dit kompleet voel of jy in ‘n ander wêreld instap met die meer as ‘n miljoen kostuums wat tot ‘n mens se beskikking is.

“Dit is ‘n droom van my wat bewaarheid is. As ‘n klein dogtertjie was dit my droom om eendag kostuums vir mense te maak,” vertel Heidi wat op negejarige ouderdom vir haarself ‘n blou rok met kolletjies gemaak het.

Haar ma Lenie Bothma wat vandag steeds trourokke en klere in ‘n winkel langs haar kostuumwinkel maak, is haar inspirasie.

“As ‘n klein dogtertjie het ek altyd deur my ma se patroonboeke geblaai en oor al die kostuums wat agter in die boeke was gefantaseer.”

Sy sê nadat sy haar eerste rok met die hulp van haar ouma gemaak het, het sy superheldklere vir die kinders in die straat begin maak.

“Dis waar ek ‘n groot belangstelling ontwikkel het om kostuums te maak en besluit het dat dit iets is wat ek baie graag met my lewe wil doen.”

Met haar mikpunt om van klere ‘n loopbaan te maak het sy mode-ontwerp in Bloemfontein studeer waarna sy by verskeie boetieks en klerewinkels gewerk het, maar daar was steeds ‘n leë plek binne haar.

“Alhoewel ek dit baie geniet het, was dit nie vir my baie bevredigend nie.”

In Oktober 1995, negentien jaar gelede, het haar droom eers ‘n werklikheid geword toe haar man maskers van oorsee af ingevoer het.

“’n Besigheid is begin waar ek kostuumpartytjies vir tot 400 mense gehou het.”

Sy herroep die dae toe sy matriekafskeide, troues en ander funksies in dié saal aangebied het.

“Dit was heerlike tye en namate ek kostuums gemaak het, het ek begin voorraad opbou.”

Ongelukkig was die saalfunksies van korte duur, want Hollywood Costumes het so begin groei dat dit moes plek maak vir die kostuums in die kinderafdeling.

Deesdae kan Heidi en haar span werkers net nie meer voorbly met die bestellings van klante soos onder andere rolprentvervaardigers, akteurs, verhoogpersoonlikhede en glanspersone wat haar vir klere, kostuums en rekwisiete kontak nie.

Talle van die kostuums in haar kostuumwinkel is al vir plaaslike en internasionale rolprente, televisiereekse, advertensies en verhoogstukke gebruik.

Televisieproduksies sluit in sepies soos 7de Laan, Binnelanders en Donkerland om net ‘n paar te noem.

Pad na my Hart, wat op Valentynsdag in teaters landwyd begin draai en deur Ivan Botha en Donnalee Roberts geskryf is, sowel as Spook van Uniondale wat oor die Paasnaweek begin draai, se kostuums is van die jongste rolprente wat Hollywood Costumes verskaf het.

‘n Hospitaaltoneel van dié fliek is in Hollywood Costumes se produksie-afdeling verfilm waar verskeie musiekvideo’s van kunstenaars soos Min Shaw, Nicholis Louw, Romanz, Kurt Darren en vele ander al vervaardig is.

Sekere kostuums is ook verskaf vir die Hollywood-opvolg van The Avengers: Age of Ultron, wat onlangs in die strate van Johannesburg verfilm is.

“Vir my was die beste om saam met die Amerikaanse akteur Adam Sandler te kon werk toe ek kostuums en rekwisiete vir die rolprent Blended verskaf het.”

Tydens die NUUS se onderhoud het aktrise Lizz Meiring by die deur ingestap en Heidi se kostuumwinkel as “hemel op aarde” bestempel en gesê dat sy vir ure daarbinne kan verdwaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button