Valentynsdag-besoek los glimlagte op talle gesigte
Valentunsdag kuiertjie verbly harte.
Die liefdadigheidsgogga het verlede jaar Lombard Bande gebyt tydens hul 30-dae-van-omgee-veldtog waarin hulle die gemeenskap vir 30 dae bedien het.
Daarom het die maatskappy besluit om hierdie liefdadigheidswerk in 2014 voort te sit.
“Ons het besluit om vanjaar ‘n 90-dae-van-omgee-veldtog te loots wat in vier kwartale opgedeel sal word,” verduidelik Yolandi Heyns, bemarkings- en kommunikasiebestuurder van Lombard Bande.
Om die veldtog te begin het Lombard Bande op Valentynsdag na twee plaaslike organisasies, die Wes-Randse Vereniging vir Fisiese Gestremdes (WRAPD) en die Môreglans Tehuis vir Bejaardes uitgereik.
“Ons wou al die mense by die kreupelsorg en die outehuis wys dat ons vir hulle omgee en dat hulle nie vergete is nie. Met dié gebaar toon ons sommer ook naaste liefde,” sê Yolandi.
Tydens hul besoek aan die instansies het Lombard Bande se personeel rose met ‘n klein boodskap aan elke personeellid en inwoners by die instansies gegee.
Die besoek het talle inwoners se Valentynsdag ekstra spesiaal gemaak en gesorg vir ‘n glimlag op elke gesig.
