Sakke vol omgee vir kindersentrum
Speelgoed, smul goed en klere is aan die sentrum geskenk.
Niewinsgewende organisasie Broken Heart Kinderfonds is ‘n bekende naam in Krugersdorp wanneer dit by gemeenskapsbediening en -bystand kom en dié keer was die kinder- en jeugontwikkelingsentrum The Bethany House Trust aan die ontvangkant van hul bedieningswerk.
Dinsdag 18 Februarie het die stigter van die Broken Heart Kinderfonds, Annamarie van der Merwe met ‘n bakkie vol groente, speelgoed en baba- en kleuterklere by Bethany House opgedaag.
“Ons het gevoel dat dit die kinders se beurt is. Ons het die afgelope tyd talle skenkings aan bejaardes gedoen en met die groot getal kinders wat The Bethany House moet huisves, het ons geweet dat enige hulp waardeer sal word,” sê Annamarie.
Sy vertel dat kinders, en spesifiek kinders wat wees gelaat is, na aan die organisasie se hart lê.
“Dis altyd lekker om ‘n jong hart bly te maak.”
Bestuurder by The Bethany House, Francios Buys het Annamarie en die Broken Hearts Kinderfonds vir die skenkings bedank.
Broken Heart Kinderfonds bedank op hulle beurt vir Farmwise vir ‘n weeklikse groenteskenking wat hulle weer kan uitdeel.
Skenkers in die Krugersdorp-area word ook bedank vir hul bydrae.
Enige iemand wat skenkings aan Broken Hearts Kinderfonds wil doen om tot hul gemeenskapswerk in Krugersdorp by te dra kan vir Annamarie skakel by 011 051 9141/2.
