CrimeEditor's choiceLocal newsNews

Dieselfde slenter tref winkelsentrum twee keer

Die bestuur wil daarom ander winkelsentrums en besigheidseienaars waarsku.

Die bestuur van ‘n winkelsentrum in Krugersdorp wil ander sentrums en besighede oor ‘n nuwe diefstalmetode inlig.

Dalene Trollip, sentrumbestuurder by die Noordheuwel Pick n Pay-sentrum het die NUUS gekontak nadat twee gevalle van diefstal in ‘n tydperk van 48 uur by twee verskillende winkels plaasgevind het.

Dieselfde persone is na bewering by albei betrokke.

Die eerste geval het op Vrydag 14 Februarie net so skuins voor 2nm by die Doggy Do-Up hondesalon plaasgevind.

Rosa Verster, ‘n werknemer, sê ‘n netjies geklede Indiër-man en -vrou en ‘n jong seun van so ongeveer nege jaar oud is die winkel in.

“Die man het aan my ‘n R50 noot gewys en in ‘n onverstaanbare taal met my gepraat. Die vrou het getolk en gesê hulle is van Dubai en wil graag weet hoeveel dié geld werd is en wat hulle daarmee kan koop.”

Sy sê hulle het toe twee kaartjies en ‘n hondehalsbandjie gekoop en wou daarna twee R100 note verruil vir ‘n R200-noot met wyle President Nelson Mandela se gesig op.

Die transaksie het toe nie gebeur nie omdat Verster eers ‘n ander klant moes klaar help.

“Ek was baie besig op daardie oomblik. Die klant het sy hond kom haal en ek moes vir hom kleingeld gee.”

Verster verduidelik dat daar nie kleingeld in die kasregister was nie en sy moes geld uit die kleinkas onder die toonbank haal.

Sy het die hond gaan haal waarna die man en vrou aan haar gesê het dat hulle eers iets vir middagete gaan eet en later sal terugkom om die geld te ruil.

Dit was ook op daardie oomblik dat die pizzabesigheid kom vra het of Verster se dogter haar voertuig kan skuif, want die afleweringstrok wou goedere aflewer.

“Ek het steeds niks vreemds vermoed nie. Later toe ek na die kleinkas soek, kom ek agter dat dit weg is.”

Sy sê dat sy in ‘n toestand was en het in trane dadelik na die paartjie gaan soek omdat sy gedink het dat een van hulle dit moes gevat het.

“Ek is self na al die restaurante in die winkelsentrum om te kyk of hulle wel gaan eet het, maar hulle was skoonveld.”

Op Sondag 16 Februarie het dieselfde paartjie, dié keer met twee meisies by hulle, na bewering items van die AMPD International Fashion klerewinkel gebuit.

Die vrou se hare wat tydens die vorige diefstal donker was, was hierdie keer ‘n ligter kleur. Die moontlikheid bestaan dat hulle hulleself gereeld vermom.

Die eienaar, Henri Wu Yuan Hua, het beeldmateriaal aan die NUUS gewys wat getoon het dat hulle dieselfde metode as by die hondesalon gebruik het om hom ‘n rat voor die oë te draai.

“Die man het met Dubaise geld na my toe gekom en wou weet of ek dit vir hom sal kan ruil.”

Terwyl die man met hom gesels het, het die vrou en die twee meisies in die winkel rondgestap en dit is duidelik sigbaar hoe hulle vier stukke klere vat en dit wegsteek voordat hulle en die man by die winkel uit is.

Wu Yaun Hua het die diefstal eers die volgende oggend by Trollip gaan rapporteer nadat hy die diefstal op die beeldmateriaal gesien het.

Trollip het op 18 Februarie met die bestuur van die sekuriteitsmaatskappy vergader om oplossings te vind sodat sulke voorvalle nie weer plaasvind nie.

“Die sekuriteitbeamptes in ingelig dat hulle die huurders van die sentrum uurliks sal besoek om uit te vind of alles nog reg is by hulle.”

Sy sê die sekuriteit self sal ook verder verskerp word, want sy kan nie toelaat dat die huurders sagte teikens word nie.

“Ek was geskok toe ek hoor dat so ‘n voorval twee keer in sowat 48 uur plaasgevind het!”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button