Honger mae daagliks gevoed danksy gemeenskap
Volgens bestuur is dit borge uit die gemeenskap wat die organisasie aan die gang hou.
Ongeveer 80 kinders van skole regoor Krugersdorp kyk daagliks in die oë van tannie Ann Labuschagné – soos sy in die gemeenskap bekend staan – en die res van die span by Huis Jerusalem vir ‘n maaltyd na skool.
Die niewinsgewende organisasie wat nie net as ‘n sopkombuis die gemeenskap dien nie maar ook minderbevoorregte kinders na skool met hul huiswerk help, vier vanjaar hul 21ste bestaansjaar en volgens Ann sou hulle dit nie sonder die hulp van die gemeenskap kon doen nie.
“Ons sou nie ons mondigwording-jaar kon vier as dit nie vir ons gereelde borge en rolspelers was nie,” sê sy.
Die organisasie wat slegs op borge staatmaak kry volgens Ann daagliks skenkings wat vleis, groente, klere en skryfbehoeftes insluit. Die meeste borge verkies om anoniem te bly.
“Soms kry ons vragte vol klere, kosskenking of selfs kontant sonder dat ons ooit die donateur van aangesig tot aangesig ontmoet,” sê sy.
Om daardie rede is dit moeilik om mense uit te sonder, maar sy wil graag al die borge bedank.
Een rolspeler wat wel ‘n groot impak het en teenoor wie Huis Jerusalem en sy kinders ewig dankbaar is, is Deon Groenewaldt. Hy is ‘n lid van die gemeenskap wat die gebou waar al die welwillendheidswerk gedoen word, geskenk het.
Huis Jerusalem werk onder die beskerming van die Nuwe Lewe Kerk, en hulle word ook vir hul bydrae bedank.
Alhoewel borge dit moontlik maak dat 80 kinders daagliks ‘n bord gekookte kos kry en hul huiswerk in ‘n veilige milieu doen, is daar steeds groot maandelikse uitgawes.
“Gas, water, elektrisiteit en sekuriteitsdienste is van ons groot uitgawes,” vertel Ann.
Enige iemand wat betrokke wil raak of skenkings wil doen, kan vir Ann skakel by 078 494 1031.
