
Die burgerregte-organisasie AfriForum het gister, 27 Februarie monsters van drink- (Bloudruppel) en rioolwater (Groendruppel) in Magaliesburg geneem.
Dit vorm deel van ‘n nasionale projek wat bekend staan as die AfriForum Blou- en Groendruppel-takprojek.
“AfriForum wil vanjaar water in Mogale City Plaaslike Munisipaliteit monitor om te verseker dat die kwaliteit daarvan op standaard is en om te help met die volhoubaarheid en bewaring van hierdie kritieke hulpbron,” het Henk Venter, voorsitter van AfriForum se Magaliesburg-tak gesê.
“Plaaslike gesagsliggame en die media is uitgenooi om die toetsspanne te vergesel ten einde die geldigheid van die uitslae te verseker,” het Henk Venter bevestig.
AfriForum sal water- en rioolkwaliteit in Magaliesburg bly monitor.
“Indien daar versuim word om aan standaarde te voldoen, sal daar druk toegepas word om die kwessie op te los, indien daar nie oplossings gebied word nie sal die nodige stappe oorweeg word om oplossings te verseker,” het Marcus Pawson, AfriForum se Organiseerder vir Gauteng-Suid gesê.
“Die krisis wat Suid-Afrika in die gesig staar as gevolg van onvoldoende watervoorsiening, ineenstorting en verval van infrastruktuur, aanvraag na water en besoedeling, het ons genoop om in te tree en te verseker dat ons waterbronne beskerm word. Wanbestuur sal nie langer toegelaat word nie en alternatiewe vir watervoorsiening en -beskerming word oorweeg,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum bygevoeg.
AfriForum stuur hiermee die #dinkwater inisiatief van stapel om mense van watergehalte en -kwessies bewus te maak. Ons nooi die publiek uit om as waghond op te tree en waterkwessies by AfriForum aan te meld by https://www.afriforum.co.za/dink-water/. Jy kan ook laat weet of die water in jou dorp skoon is. Sms “JA” of “NEE” na 32277 (R1 per sms),
“Die watermonsters word deur onafhanklike SANAS-geakkrediteerde laboratoriums getoets. Daar sal ‘n volledige verslag van die uitslae op 17 Maart aan die publiek en die media beskikbaar gestel word,” het Kleynhans afgesluit.
