Kort nadat inwoner Wayne Softly met die NUUS meegedeel het dat sy dogter getraumatiseerd is nadat rowers haar in Krugersdorp oorval het en haar selfoon gesteel het, het die polisie ‘n bende vasgetrek wat vir soortgelyke gevalle verantwoordelik was.
Volgens Krugersdorp SAPD woordvoerder Tshepiso Mashale het ‘n skoolleerling hulle Vrydag 28 Februarie tydens ‘n standaard patrollie ingelig dat hy pas deur ‘n bende van vyf oorval is en dat sy selfoon gesteel is.
“Hy het die rowers en hul kleredrag aan die polisie beskryf,” sê Mashale.
Polisie het die Krugersdorp-Wes area waar die roof plaasgevind het deursoek en het minute later op die groep van vyf verdagte rowers afgekom.
“Die verdagtes het in verskillende rigtings gevlug toe hulle die polisie sien maar beamptes het vinning opgetree en al vyf verdagtes vasgekeer.
“Hulle was in besit van drie gesteelde selfone,” sê Mashale.
Die vyf verdagtes is gearresteer en by die Krugersdorp-gevangenesdiens in aanhouding geplaas.
Volgens Mashale was die verdagtes se modus operandi om op straathoeke te sit en vir leerlinge na skool te wag.
“Leerlinge wat met selfone in hul hande geloop het is aangerand en van hul selfone geroof,” sê sy.
Sy waarsku skoolkinders en ander inwoners om nie met selfone in hul hande te stap nie en dit eerder op ‘n veilige plek te bêre totdat hulle by hulle bestemming aankom.
