Voertuig vou om lampaal; drie beseer
Die nat toestande in Krugersdorp veroorsaak talle motorongelukke.
Middagverkeer in Albertina Sisuluweg in die rigting van Wentworthpark is op Dinsdag 11 Maart erg ontwrig as gevolg van ‘n ongeluk.
Voetgangers en motoriste het verstom op die toneel gestaan en kyk hoe drie beseerdes uit ‘n wit Mazda Sting gehaal is nadat die motor byna soos papier om ‘n lamppaal gevou het.
Een omstander het aan die NUUS vertel dat die motor die een oomblik nog reguit op die pad gery het en toe na ‘n harde slag om die paal gevou was.
Daar word vermoed dat nat toestande bygedra het tot die ongeluk en dat die bestuurder moontlik beheer oor die voertuig verloor het nadat dit op die nat pad gegly het.
Volgens noodienste is die drie beseerdes – een vrou en twee mans, al drie in hul dertigs – op die toneel gestabliseer voordat hulle na Leratong Hospitaal geneem is vir verdere behandeling.
Intussen het die nat weer elders ook chaos op die Wes-Randse paaie veroorsaak en is daar op dieselfde dag vyf ongelukke in die Krugersdorp/ Roodepoort-area by noodienste aangemeld.
In Roodepoort op die hoek van Goldmanstraat en Golf Club Terrace is ‘n man en ‘n kind beseer toe hulle met hul motor in ‘n boom vasgery het.
Volgens ER24 woordvoerder Lyanda Majija moes lede van die brandweer die man en kind uit die voertuig haal.
Albei beseerdes is vir verdere behandeling ook na Leratong Hospitaal geneem.
