Parkeer op eie risiko
'n Leser van die NUUS was geskok om te hoor dat die motorassistente by 'n winkelsentrum nie as karwagte werk nie nadat 'n voertuig se battery daar gesteel is.
Die publiek word gemaan om die motorassistente by die Anthos Sentrum in Krugersdorp nie vir karwagte aan te sien nie.
So vertel Cliff Thompson, eienaar van Thompsons Security in Voortrekkerweg wat vir die sekuriteit by dié sentrum verantwoordellik is.
Dit volg nadat die NUUS ‘n klagte van Johan Kritzinger (27) ontvang het toe ‘n voertuig se battery op die perseel gesteel is.
Hy vertel dat sy ma Mara (63) en broer Jaco (32) sowat twee weke gelede by die sentrum stilgehou het sodat sy ma haar pensioengelde by Checkers kon trek.
“Toe hulle by die bakkie kom, het hulle ontdek dat die battery gesteel is.”
Hy sê hulle was in ‘n toestand omdat hulle onder die indruk was dat die motorassistente die bakkie moes dophou.
Thompson sê egter dat die assistente se werk nie noodwendig insluit om voertuie dop te hou nie.
Hy sê hulle werk vir hulleself en doen dus verskeie ander take soos om die kopers se pakkies na hulle motors toe te dra.
“Hulle huur ‘n gedeelte van die parkeerarea by ons. Die res van die geld wat hulle daardie dag maak nadat hulle die huurgeld betaal het, is hulle s’n.”
Thompson sê daarom kan hulle nie net by een kar wagstaan nie.
“Ons het wel twee sekuriteitswagte elk gedurende die dag en saans op die perseel en as die assistente onraad vermoed sal hulle die sekuriteitswagte daarvan in kennis stel.”
Oor Kritzinger se saak sê Thompson dat sy broer in ‘n oop parkeerarea geparkeer het en dat die battery buite die voertuig gemonteer is, wat dit vir diewe baie maklik maak om dit binne oomblikke af te steel.
“Alhoewel ons sy situasie verstaan en simpatiseer daarmee, glo ons dat dit hulle eie verantwoordelikheid is om seker te maak dat hulle eiendom beveilig is.”
Thompson sê dat hulle die motorassistente kon gevra het om na die voertuig te kyk en aan hulle genoem het dat hulle dan vir hulle ‘n fooitjie sou betaal.
Kritzinger het aan die NUUS genoem dat die battery wat hulle intussen gekoop het nou met ‘n slot en ketting vas is.
Oor die geld wat hy van Thompsons Security vir die nuwe battery eis, sê Thompson dat dit nie sal realiseer nie omdat kennisgewings by die perseel aandui dat inkopiegangers daar op eie risiko parkeer.
