Verdagtes verskyn in hof vir besit van staatswapen-arsenaal
Die verdagtes staar aanklagtes van besit van onwettige ammunisie, vuurwapens en plofstowwe in die gesig.
Nadat die NUUS op 9 Januarie verslag gelewer het oor ‘n arsenaal staatswapens en -ammunisie wat in versteekte kompartemente in ‘n huis in Ruimsig ontdek is is die verdagtes in verband met die saak gearresteer.
Die verdagtes het op 14 Maart in die Roodepoort Landdroshof verskyn.
Die NUUS het verslag gelewer dat polisie beslag gelê het op verskeie gewere en magasyne, onder meer ‘n R1 en Lee Endfields, handwapens soos Beretta .22’s en Colt .45’s, ’n antieke 1878 BSA .58, ‘n submasjiengeweer, verskeie geweerlope, bybehore vir AK 47’s, ‘n 9mm-knaldemper, 12-boorhaelgeweerrondtes, R5-rondtes, pantserkoeëls, splintergranate, Russiese skokgranate, rookgranate, seinfakkels, 1 000vt-fakkels en 15mm-potloodfakkels.
‘n Paar van die wapens is deur die huurders ontdek wat ten tye van die verslag pas in die huis ingetrek het en daarna het die SAPD se Blitspatrollie (wat in Krugersdorp gebasseer is), plofstof deskundiges en die Wes-Rand Honde-eenheid op die res van die arsenaal in die huis en buitekamer afgekom.
Dit was meer as blote toeval toe ‘n paartjie kort daarna in Wilderness vir die besit van onwettige ammunisie, vuurwapens en plofstowwe gearresteer is en polisie het leidrade begin verbind.
Dit is later bevestig dat die Wilderness-paartjie ook die huiseienaars van die R6,8 miljoen huis in Ruimsig is waar die arsenaal van wapens in 2013 ontdek is.
Die paartjie, wie se name aan die NUUS bekend is, was intussen in die George Landdros Hof borgtog van R10 000 toegeken as gevolg van mediese redes.
Die saak is aan die Roodepoort Landdroshof oorgegee waar dit uitgestel is tot 6 Mei.
