Bob kry nog R314 miljoen
Die nuwe stadion sal as veeldoelige sportsentrum en prestasie-afrigting sentrum dien.
Die Bob van Reenen Sportstadion ontvang glo ‘n verdere R314 miljoen, bo en behalwe die fondse wat Mogale City begroot het vir 2014, vir die ontwikkeling en restourasie van die geskiedkundige sportstadion.
Die LUR vir Finansies in Gauteng, Mandla Nkomfe het Dinsdag 4 Maart in sy begrotingsrede aangekondig dat dié bedrag begroot word om die finale fase van die uitgebreide restourasiewerk aan die stadion moontlik te maak.
“Dit is teleurstellend dat die eens glorieryke stadion eers totaal moes verval en heelwat beskuldigings van nepotisme en bedrog teen die vorige burgemeester, sy bestuur en heelwat bekende name in die sportwêreld gemaak moes word, voordat aksie geneem is,” sê Raadslid Amanda de Lange van die Vryheidsfront Plus in Mogale City.
“Jare se druk en ‘n onverpoosde stryd met Mogale City en die Gauteng Departement van Sport deur die Vryheidsfront Plus het daartoe gelei dat die Gauteng Provinsie ingegryp het om die stadion te red en ook van die geleentheid gebruik te maak om dit verder uit te brei.
“Die nuwe stadion sal as ‘n veeldoelige sportsentrum en prestasie-afrigting-sentrum dien. Planne wat hiervoor ‘op die tafel’ is, toon dat Krugersdorpers ‘n waardige sportsentrum sal hê om op trots te wees.”
Volgens De Lange sal sy deurentyd die Krugersdorp-gemeenskap op hoogte hou van die vordering wat met die proses gemaak word.
