Kitaarkêrels vereer hul grootste aanhanger
'n Liedjie is spesiaal vir 'n motorneuronsiektelyer van Krugersdorp en sy vrou gekomponeer en by hulle huis vir hulle uitgevoer.
‘n Bekroonde kitaarorkes het tyd uit hulle besige skedule afgestaan om die liedjie wat hulle vir ‘n siek man en sy ondersteunende vrou gekomponeer het, vir hulle te gaan speel.
Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels, wat bekendheid verwerf het vir hulle unieke kitaarmusiek is al verskeie kere in die verlede vir Samas (South African Music Awards) en Ghoemas benoem en is ook al as wenners aangewys.
Dié orkes het op Saterdag 15 Maart ‘n derde keer vir Deon Nel, ‘n motorneuronsiektelyer, by sy huis gaan vermaak.
“Die eerste keer was op sy 50ste verjaardag. Verlede jaar het ons weer vir hom gaan kuier en vir hom CD’s en DVD’s geneem, omdat hy vir seker een van ons grootste aanhangers is,” vertel Hennie.
Tydens die onlangse besoek het Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels die liedjie ‘n Wals vir Deon en Bernice Nel in die familiekamer vir hulle gespeel en ook vir Deon sy eie kitaartjie met sy naam en die hantekeninge van al die lede van die orkes daarop, oorhandig.
“Die liedjie sal op ons jongste album Skoffel in die skuur wees wat in September vanjaar vrygestel word,” sê Hennie.
Bernice sê dit is vir hulle lekker om Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels by hulle aan huis te ontvang.
“Dit is altyd wonderlik om te sien dat hulle tyd uit hulle besige skedules neem om by ons te kuier.”
Hulle beskou die feit dat hulle spesiaal vir hulle ‘n liedjie geskryf het, as ‘n groot eer.
“Hierdie liedjie is perfek en is presies waarvan ons hou – ek is seker Hennie het die liedjie spesiaal gekomponeer volgens die musiek wat vir ons lekker is.”
Deon het tydens die optrede breed geglimlag en selfs geskerts dat hy lus het vir ‘n bier.
“Hy het baie gelukkig gelyk en het selfs voor die betrokke dag al met Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels se musiek begin partytjie hou, want hy wou die heeldag na hulle musiek luister.”
Dit lyk amper of Deon se liefde vir musiek na die gesin se African Grey papegaai, Chicken, oorgespoel het omdat hy ook heerlik saam gefluit en gedans het.
Om vir Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels as wenners in die Beste instrumentale album-kategorie vir die Ghoemas te stem, sms P3 na 41808. Sms’e kos R1,50 elk en slegs 20 sms’e per kategorie kan aangestuur word.
