Krugersdorp se Ruan in nuwe film te sien
Ruan het onlangs sy gevoelens oor die film met die NUUS gedeel en noem dat hy self soms geboelie word.
Agent 2000 is ‘n aksiebelaaide avontuurfliek wat vermaak vir jonk en oud sal bied.
As ‘n eerste van sy soort in Suid-Afrika, beskik die rolprent oor buitengewone en ongewone visuele effekte, ‘n uitmuntende klankbaan en ‘n sterbelaaide rolverdeling wat kykers sal laat lag, huil en verlief word.
Ruan Wessels, inwoner van Krugersdorp en leerling van Hoërskool Noordheuwel, speel die rol van die boelie Remardo in die film.
Agent 2000, oftewel Walter du Toit, is ‘n 14-jarige knaap wat mens aan geheime agent 007 herinner. Hy is slinks, hy is skerp en hy is beslis ongelooflik cool. Daar is nie sprake van skool tydens die voltooiing van al sy missies nie, en daarom verkies hy tuisonderrig. Buitendien, ‘n jong speurder het nie tyd vir huiswerk of vriende nie en Walter verkies veel eerder om met nuwe tegnologiese uitvindsels te eksperimenteer. Wanneer hy egter gevra word om Die Laksman vas te trek, kom Walter voor ‘n nuwe uitdaging te staan: publieke skool. Vas oortuig dat hy Die Laksman binne die eerste dag gaan ‘ontmasker’, vermom hy homself as ‘n bleeksiel en durf hy sy eerste dag by Hoërskool Randburg vol selfvertroue aan.
Ruan (16) is tans in Graad 11 en het sy loopbaan as akteur in 2008 begin en was gelukkig om sonder enige drama-opleiding sy voete in die industrie te vind. Hy het sedert 2008 in verskeie televisie-advertensies en reekse verskyn en het selfs al radio- en animasiewerk gedoen.
In 2010 het hy sy rolprentdebuut in die film Roepman gemaak. Ruan verskyn sedert 2011 as Morné in die reeks Binnelanders en het onlangs sy kontrak vir ‘n vierde jaar hernu. In 2012 het hy die hartebreker in die rolprent Hoofmeisie gespeel.
Ruan het onlangs sy gevoelens oor die film met die NUUS gedeel en noem dat hy self soms geboelie word.
“Ek was nog nooit fisies geboelie nie, maar word daagliks mondelings geboelie, en selfs deur grootmense. Maar gelukkig is ek glad nie vatbaar daarvoor nie, want ek weet verseker dat die probleem by die boelie lê en nie by my nie. Ek voel inteendeel jammer vir die boelie en maak dit my doelwit, sover ek kan, om die boelie te bevriend en dan te oortuig dat dit wat hy doen nie nodig is nie,” sê Ruan.
Hy vertel dat dit vir hom moeilik was om ‘n boelie te speel maar dat hy die uitdaging geniet het. Hierdie karakter verskil ook hemelsbreed van die een wat hy in Binnelanders vertolk.
“Morné is op hierdie stadium besig om in ‘n mislike tiener te verander – hy is kwaad, beïnvloedbaar, ongeskik en so aan. Romardo is verwaand, hy boelie, en hy dink vreeslik baie van homself.”
Maar Ruan glo hy het ‘n wenresep vir ander wat ook geboelie word.
“Staan op vir jouself, moenie wys dat hy jou bang maak nie. Moenie vir hom wys dat dit seer maak nie. As jy kan, probeer met hom/ haar vriende maak. ‘n Boelie is iemand wat self seer het of seer gekry het, of selfs ‘n swakbeeld het.”
Daar is geen keer aan hierdie plaaslike groot- en kleinskerm sensasie nie wat vreeslik daarvan hou om skaatsplank te ry. Ruan sê dat hy ongelooflik baie uitsien na sy matriekjaar en dat hy daaraan dink om regie te gaan swot.
Oor sy persoonlike lewe het hy nie juis veel te sê nie aangesien hy baie besig is.
“Ek is regtig baie besig, so dit is nie altyd vir my moontlik om met een persoon vas te maak nie, as ek vry is, spandeer ek tyd saam met die persoon wat op dieselfde tyd beskikbaar is.”
Vir sy jong aanhangers wat graag in sy voetspore wil volg, wil hy graag sê, “Werk hard, bly glo, moet nooit sê nooit nie, bly droom, drome word verseker ‘n werklikheid. Niks is onmoontlik met die Here aan jou kant nie, dis waar ons seëninge vandaan kom”.
Agent 2000 open in teaters landswyd op 28 Maart, maak seker jy mis dit nie.