Meisie kyk nog televisie toe gaps inbrekers dit
Twee inbrekers het met die televisiestel gevlug waarna 'n agtjarige meisie gelê en kyk het.
‘n Agtjarige meisie was nog besig om televisie te kyk toe twee mans dit tydens ‘n inbraak op 17 Maart gebuit het, berig Phillip Bruwer van Maroela Media.
Peter van Wyk, pa van die meisie het aan Maroela Media gesê sy dogter het voor die televisie onder ‘n kombers gelê toe die inbrekers toegeslaan het.
“Die mans het oor ons muur geklim, ‘n groot venster langs die voordeur met ‘n klip stukkend geslaan en só toegang tot die huis gekry.”
Die verdagtes het dadelik na die televisiestel, ‘n 50 duim LG-platskerm, geloop en dit opgetel. Intussen het sy dogter en die huishulp om hulp geskreeu. Die ouma en oupa het die geraas gehoor en die paniekknoppie van hulle veiligheidsmaatskappy gedruk. Die verdagtes het daarna op die vlug geslaan en net die televisiestel gebuit.
Die Krugersdorp-polisie was vinnig op die toneel om die saak te ondersoek. ‘n Inwoner het ‘n foto van die verdagtes se voertuig, ‘n wynrooi BMW, geneem en dit aan die polisie en die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) oorhandig.
Die GPF het later die dag ‘n roetinepatrollie in die omgewing gedoen en die voertuig by ‘n taxistaanplek opgemerk.
Die voertuig het glo weggejaag toe die GPF se voertuig nader kom. Die voertuig se registrasienommer is afgeneem en word ondersoek.
Volgens Van Wyk was sy dogter baie dapper en kon sy ‘n goeie beskrywing van die verdagtes gee.
“Sy lyk in dié stadium nie geskok nie. My vrou is ‘n verpleegster so ons hou haar toestand fyn dop vir as skok dalk later sou intree.”
Hy sê egter dat hulle dogter die volgende dag op 19 Maart terug skool toe is, maar dat die skool laat weet het dat sy ontsteld is en dat hulle haar moes kom haal.
“My ma en pa bly in ‘n aparte woonstel op my erf en hulle het haar gaan oplaai en huis toe gebring, waar ons huishulp na haar omgesien het,” sê Van Wyk.
Hy sê hy is besig om veiligheid by sy huis op te skerp, aangesien die verdagtes die sitkamer glo goed bekyk het toe hulle daar was.
