Sekuriteitsmaatskappy die oë van die gemeenskap
'n Sekuriteitsmaatskappy wat al verskeie kriminele sedert verlede jaar vasgetrek het, seëvier met hulle sekuriteitskameras in die industriële gebied Chamdor.
So onbaatsugtig soos meerkatte in hulle gemeenskap, so beskerm ‘n sekuriteitsmaatskappy van Chamdor hulle gemeenskap van kwaaddoeners.
In die natuur is daar een of meer meerkatte in die kolonie wat wag staan om die ander wat kos soek of sommer net speel, van naderende gevare te waarsku, maar vir P&P Security in McCleanweg is dit hulle gesofistikeerde kamerastelsel wat die waarskuwings doen.
Pieter de Villiers, algemene bestuurder, sê die maatskappy se monitorstelsel, wat nou eers drie jaar in gebruik is, het al verskeie suksesverhale in die Chamdor-omgewing, waar die meeste van hulle klandisie is, opgelewer.
“Ons vervang traditionele sekuriteitswagte met kameras en dit kan besighede help om tot 40 persent op veiligheidskostes te bespaar.”
Hierdie sekuriteitskameras se beeldmateriaal word 24 uur per dag in ‘n beheerkamer by hulle perseel dopgehou. Snags wanneer dit moeilik vir die menslike oog is om beweging op te tel, sal die kamerasisteem ‘n sein na die beheerkamer stuur indien dit beweging van ‘n moontlike oortreder optel.
“Sodra die beheerkamerpersoneel iets sien wat verdag voorkom, stel hulle ons gewapende wagte in kennis wat dan onmiddellik ondersoek gaan instel.”
Hy sê dat hulle sowat 350 wagte het en dat die kamerastelsel dit vir hulle makliker maak om te weet met waarmee hulle te doen gaan kry.
“Die beheerkamer kan hulle byvoorbeeld wys hoeveel oortreders op die perseel is, waar hulle is en of hulle gewapen is.”
De Villiers spog en sê dat waar hulle maatskappy kameras plaas, is daar geen wegkruipplek vir misdadigers nie.
“Ons klante kan op enige plek in die wêreld hulle eiendomme van rekenaars, slimfone of tablette dophou.”
Hy sê dat kameras inligting verskaf en die beste voertuig is om misdaad teen te werk.
“Kameras kan onder andere nie moeg word, omkoopgeld aanvaar of deur misdadigers oorrompel word nie. Die beeldmateriaal kan ook as bewysstukke dien,” sê De Villiers.
Hy sê die maatskappy het ook al verskeie kriminele vasgetrek op persele wat nie deel uitmaak van hulle klandisie nie.
De Villiers sê dat hulle met trots kan sê dat hulle sedert Desember verlede jaar tot middel Maart vanjaar 50 misdadigers aangekeer het.
